Gedagte vir die dag: Loflied

sing-vir-god

Argieffoto.

Lees Psalm 103

Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. (Psalm 103:2)

Die woorde in hierdie geliefde lofpsalm vloei soos ’n helder stroom oor gladde klippe.  Die een sin loop in die ander een in, sodat dit uiteindelik een magtige rivier word wat uitmond in dié uitroep: “Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here op al die plekke waar Hy heers!” (v. 22).

Almal, oral. Dít is inderdaad die latere leser se gewaarwording:  Die digter is belewenis verklank iets van myne, dit voel kompleet asof ek dit maar kan nasê.  Dit is asof dit vir mý geskryf is.  Vir my, die sieke, die sondaar, die sterflike.  Die een wat weet hoeveel liefde en ontferming ek nodig het, hoe ek reg en geregtigheid begeer.  Hoe barmhartigheid, genade, lankmoedigheid en liefde my aan die lewe hou.

Dit alles, sê hy, is die Here se werk, dit is wat Hy doen.  Daarom dié klinkende loflied.

Ek, ja, ook ék, wil die Here loof!

Dit is net dat ek soms vergeet.  Dat midde-in ‘n krisis of na ‘n groot teleurstelling my loflied verstom.  Ek vergeet die woorde wat eens so gemaklik uit my mond gevloei het.  Soms gebeur daar iets wat straks nóg erger is: Ek vervang die lofwoorde met skelwoorde.  Lof en laster uit dieselfde mond …

Dan, iewers op ’n beter dag, wanneer ek my begin skaam vir my praterigheid, dring dit weer tot my deur:  Hy verwyt ons nie vir ons menslikheid nie, Hy wreek ons nie op ons ondankbaarheid nie.  Soos ‘’n pa wat sy skreeuende kind nader trek en troos, so tel Hy ook vir my op en sê:  Kom ons praat hieroor.

U weet wie ek is en hoe ek maak. Nogtans noem U my “my kind”. Ek loof U!

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Connie ·

Prys die Here! In alle omstandighede veral as dit sleg gaan.

Morrie ·

……kom ons praat hieroor. So mooi. God is n Pappa van liefde wat NOOIT Sy rug op Sy kinders draai nie. Elke vertroosting, aanmoediging, liefdes woordjie wat jy ooit nodig sal kry is in God se word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.