Gedagte vir die dag: Lofliedjies

viool_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 117

… aan die trou van die Here is daar geen einde nie! (Psalm 117:2)

Soos Psalm 119 (die langste psalm) ’n vasvragunsteling is, so is Psalm 117 eweneens ’n “wenner” – as die kortste psalm in die bundel liedere hier in die hart van die Bybel. Twee verse, niks meer nie. Boonop is nie een van hierdie verse uitsonderlik nie. Die begin  en die einde is maar ’n eggo van wat ons in feitlik al die psalms hoor: “Prys die Here!” En binne hierdie merkers word die Here se sterk liefde en ewige trou kortweg besing. Op dieselfde noot. Dit is al.

Maar dit is mos genoeg, of hoe? Wat moes die psalmdigter dan byvoeg?

Dit herinner ons aan Jesus se vermaning baie jare later, die keer toe Hy aan sy volgelinge gesê het hulle moet tog nie dink lang gebede kwalifiseer vanweë hul woordrykheid om verhoor te word nie. Die Hoorder daarvan ken reeds hul baie woorde. Hulle kan dalk reken om mense hiermee te beïndruk, en sal dit straks regkry, maar God sien tot in hul hart (vgl. Matt 6:5-8).

Bybellesers hoef nie verder as die einste psalmbundel te blaai om dié evangelie reeds hier in die Ou Testament te verneem nie. Hoor dan: “U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom … Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees” (Ps 139:2, 4).

Psalm 17 se kriptiese dog allesseggende lofliedjie leer ons weer: Net soos ons gebede nie ’n uitvoerige inkopielys hoef te wees wat ons aan die Here voorlê nie – Hy weet wat  ons  nodig het –  is dit onnodig om van ons lof ’n welluidende openbare vertoning te maak.

Die Een aan wie dié lof toekom, weet reeds alles wat in ons hart leef.

Here, hoor my liedjie: Halleluja!

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae