Gedagte vir die dag: Lofprysing-lysies

ou-deur_stiltetyd_ABrits.jpegTeen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. (Handelinge 16:25)

In talle hedendaagse selfhelpboeke en soortgelyke tydskrifartikels word lysies maak aangedui as een van dié maniere om jou stresvlakke te help verlaag. Die kenners raai jou aan om dit te doen sodat jy nie so maklik dinge oorslaan of agterweë laat nie. Belangrike dinge wat vergeet word, jaag stresvlakke op.

Die lysies wat jy maak, help ook om jou kop skoon te kry. Al die gedagtes wat jou aandag opeis, word verjaag. Jy word gehelp om te fokus op dit wat regtig belangrik is.

Ons lees in die Handelingeverhaal hoe Paulus en Silas in die tronk gestop is. Hoe hulle nie net daar in sak en as gaan sit het nie, nie sommer tou opgegooi het in daardie haglike, benoude, donker plek nie, maar besluit het om eerder “te bid en tot lof van God te sing” (Hand 16:25).

Toe gaan die deure vir hulle oop sodat hulle weer lig en vryheid kon beleef.

Paulus en Silas se ingesteldheid inspireer my om eerder ’n ander houding as die gewone in te neem wanneer ek voel die lewe druk te swaar. Na hulle voorbeeld kies ek om God te loof, of doodgewoon met Hom te praat.

Maar, het ek uitgevind, sodra ek vir die lig kies, kom die donker weer om my opnuut te oorweldig.

Daarom het ek begin lysies maak wanneer dit donker word om my. Ek maak lofprysing-lysies en dankbaarheid-lysies sodat ek nie sal vergeet nie en my aandag nie weggelok word na allerlei bekommernisse en boosaardighede nie. Sodat ek sal onthou wie God werklik is.

Dan lyk die lysie min of meer só:

  • U is my liefdevolle Vader, die Een wat sorg en vertroos en my saggies teen u bors druk. U is die Een wat my ken en elke haar op my kop tel.
  • U is my Redder, die genadige Een wat my herskep, hervorm, nuut maak. U is die Begin en die Voleinder van my geloof.
  • U is my Leermeester, Stuurman, Goeie Herder. U is die Een wat raad gee en leer en wat my wyse leiding gee.
  • U is die Prins van Vrede, die Gewer van ’n soort kalmte wat alle verstand te bowe gaan. U is vol vreugde en wysheid. U barmhartigheid is sonder einde. U is sagmoedig en vriendelik en genadig.
  • U is my God en my Koning, my Here en Verlosser. U mag is groter en meer as enigiets op hierdie aarde. U het die laaste sê, U is die oorwinnaar in elke stryd.
  • U is my God. En ek is u kind.

Here, U is ’n wonderlike God! Ontvang ál ons lof en dank vir hierdie dag!

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge. Amen!

Alta Kriel ·

Ek sluit graag aan.
Dankie dat jul ook hierby n dagstukkie insluitwat baie goeie nuus is

Von ·

Dankie Here Jesus vir elke nuwe dag waar U saam met ons stap. Ek is so dankbaar vir elke belofte in U woord…U is die Waarmaker daarvan…Amen

Lena Jonk ·

Liefdevolle Meester, dankie vir versterkende oomblikke saam met U. Laat my nooit my eensaamheid bekla nie, maar dit gebruik as n geleentheid met U.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.