Gedagte vir die dag: Loof die God wat my gemaak het

arms_uitgestrek_man_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. (Psalm 139:14)

Wanneer laas het jy die wonder van nuwe lewe aanskou? ’n Klein, volmaakte mensie. Dis veral wanneer daardie mensie jou eie bloedfamilie is dat jy nie anders kan as om deur dié Godswonder oorweldig te word nie. En ons verwonder ons oor God se skeppingsmag en oor sy volmaakte skeppingswerke.

Psalm 139 gee iets weer van die verwondering van die digter oor die manier waarop God by ’n mens se lewe betrokke is. Reeds van voor sy geboorte was God besig om hom te vorm, hom aanmekaar te weef in die skoot van sy moeder. Skepper- God! God van wonders! Maar dit bly nie by ’n skeppingswonder nie; God loop die pad saam met sy skepsel. Hy omsluit my van alle kante (vers 5). My Skepper-God is ook die Een wat my vashou en versorg en bewaar.

Ja, ongelukkig word ook ek en jy prooi van die sondeval. God se volmaakte skeppingswerk word deur sonde belemmer, vermink. Maar dan gebeur die volgende wonder: Ons leer ken ons Skepper-God ook as die Herskepper van gebroke lewens. Jesus Christus het gekom om ons nuut te maak – mense wat na die beeld van God al meer Christusgelykvormig word.

Kom ons sluit vandag by die psalmdigter aan in die loflied aan ons Skepper-God. Staan net weer bewustelik in verwondering oor die wyse waarop God in jou lewe betrokke is. Hy het nie eers by jou bekering op die toneel verskyn nie; Hy was van voor jou geboorte af alreeds besig om die toneel vir jou lewe voor te berei. Hy was nog altyd daar vir jou.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarie ·

Verwyder my epos asseblief van julle daaglikse stiltetyd…..julle stiltetyd boodskap maak my elke oggend te vroeg wakker….vanaf 5:00

Baie dankie
[email protected]

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.