Gedagte vir die dag: Loof God vir alles wat Hy is

vrou_arms_uitgestrek_sonsondergang_see.png

Foto: onestoneaway.com

Dawid het ’n lofprysing aan die Here in teenwoordigheid van die hele vergadering uitgespreek. Sy woorde was: ‘Geloofd sy U, Here, God van ons voorvader Israel, van ewigheid tot ewigheid. Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe.’ (1 Kronieke 29:10–11)

Dawid was ’n digter wat geweet het hoe om woorde in te span. Hy kon die volk in vervoering bring en hulle God laat sien, die God wat nie­mand in sy volheid kon beskryf nie, maar wat Dawid geken het as groot en verhewe bo elke menslike prestasie. Dawid, wat koning was oor die hele Israel, wat ryk en geëerd was, besing God se roem en majesteit en noem Hom die Koning van die heelal. Hy heers oor Dawid en Israel, oor die hele wêreld en alles wat die aarde omsluit – die sterre, son en maan.

Dawid het nie doktorsgrade in wiskunde, wetenskap en astrofisika gehad nie. Daar was nie teleskope of verkykers nie. Hy kon nie die wêreld deur google-earth bekyk of sy pad met ’n GPS vind nie. Daar was nie vinnige karre of vliegtuie of ruimteskepe nie. Elektrisiteit, fotografie, radio en televisie, kameras en mikroskope was nog nie uitgevind nie. Nie een van die hulpmid­dels wat ons vandag het om die wêreld om ons te verken, was beskikbaar nie.

Maar Dawid kon Gód sien, beter as baie van ons geleerdes. Hy het God in sy grootheid gesien. Hy het nie probeer om Hom te verstaan en te ontleed nie, maar eenvoudig erken dat God die heelal regeer. Daarom kon hy God met sy hele hart, siel en verstand loof en prys en in alle opregtheid aanbid en vereer.

Heilige God, ons kan U nie in woorde beskryf nie, ons woorde skiet ver tekort. Ons liefde en lof, ons eer en aanbidding, ons lewe is gering. Tog is dit al wat ons het om U mee te loof en te prys.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.