Gedagte vir die dag: Loof God vir alles wat ons het

Berg_wolke_landskap_ReintDykema.jp

Foto: Reint Dykema

En nou loof ons U, o God, ons prys u glansryke Naam, want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. (1 Kronieke 29:13–14)

Dis verstommend wat Dawid en die volk alles vir die bou van die tem­pel bymekaar gemaak het: goud, silwer, yster, hout, oniks en ander gesteentes. Bo en behalwe alles wat hulle reeds versamel het, het Dawid op die dag van die oorhandiging 103 ton goud van Ofir en 240 ton suiwer silwer uit sy eie skatkis bygedra en die volk uitgedaag om hom dit na te doen. Hulle het toe 170 ton goud, 342 ton silwer, 616 ton brons, 3 427 ton yster en nog edelstene vrywillig bygedra.

Die Here het die volk wat as slawe uit Egipte weggetrek het, oorvloedig geseën. Dawid het hulle aandag daarop gevestig. Alles wat hulle het, kom tog van die Here. Hy maak mense sterk en help hulle om te werk en skatte te versamel. Maar die mens se lewe is soos ’n skaduwee en dan is dit verby – hul besittings en geld en goed, hul prestasies vergete.

Die ou Egiptiese konings is saam met hul skatte, vroue, kinders en slawe begrawe, sodat alles en almal byderhand sou wees wanneer hulle in die hier­namaals aanland. Ons weet dat ons niks waaraan ons op aarde so vasklou in die hemel sal nodig kry nie. Geniet wat jy het, prys God daarvoor. Beskou dit as ’n voorreg om gerieflik en omring met mooi goed te leef, maar moenie jou goed aanbid nie. Gee vir ’n goeie saak, gee vir die armes. Gee jou besittings vrylik aan God terug.

Goeie Vader, U gee ons die gawe om die nood van ander raak te sien, ons loof U ook daarvoor.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ElgeraineR ·

Dankie Here Jesus vir al die voorregte in my lewe, want alles kom tog van U af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.