Jubel tot eer van God ons sterkte, juig tot eer van die God van Jakob! Sing, en slaan die tamboeryn, laat hoor die lieflike klanke van die lier en die harp. Blaas die ramshoring op nuwemaan, met volmaan, op ons feesdag … (Psalm 81:2-4)
Ek het onlangs tydens ’n vlug na Bloemfontein langs ’n aantreklike middeljarige man gesit – hy het vertel dat hy ’n ingenieur is met ’n pragtige vrou wat sy álles is en twee wonderlike en bogemiddelde intelligente kinders.
Nadat ons so ’n paar minute oor ditjies en datjies gepraat het, het hy verklaar dat hy as jongman teologie wou studeer, maar toe “verloor hy sy geloof ”, soos hy dit gestel het. Ek het hom hieroor uitgevra en hy het vertel dat hy in die bestaan van God begin twyfel het in die tyd toe hy sendingwerk in Hillbrow gedoen het.
Die seer in sy oë het ’n storie vertel en hy het taamlik bitter gesê: “Hoe kan daar ’n God wees met al die lyding wat daar op aarde is?” Hy het, effe swartgallig, ’n klomp negatiewe dinge uitgeryg wat in die wêreld aan die gebeur was. Hoewel baie daarvan waar is en dit nodig is om daaroor te praat kon ek vinnig agterkom dat hy soveel mooi in sy lewe miskyk.
Ek het al my moed bymekaargeskraap en in ’n sagte stem gevra: “Maar het jy my nie so pas van jou pragtige vrou en julle allermooiste en begaafde kinders vertel nie? Het jy nie nou net van jou mooi huis in Johannesburg genoem nie? Hoe lekker dit vir jou is om in die natuur fiets te ry?” Hy het my ietwat geskok aangekyk nadat ek die brawe woorde geuiter het en ek wil tog glo dat die uitdagende vrae hom laat dink het oor al die goeie gawes wat hy uit God se hand ontvang.
Dit gebeur so maklik dat ons onvergenoegd raak en dinge in ons lewe as vanselfsprekend neem en dink ons het nie rede om God te loof nie. Die Woord sê egter dat elke goeie gawe uit God se hand kom en daarvoor kan ons Hom daagliks loof. Vandag se teksgedeelte is ’n feeslied waarin God se goedheid geprys word. Saam met die digter moet ons God elke dag eer vir al die verrassende voorregte in ons lewe.
Prys die Here, God is GROOT!!!!
Aan GOD kom toe al die eer. Daar gebeur slegte dinge in die lewe, maar dit maak nie GOD minder barmhartig nie. Hy het dan die ontsettende opoffering gemaak om Jesus Sy Seun te stuur om in ons plek gestraf te word , sodat ons! die ewige lewe kan hê. Niemand kan Hom forseer om dit te doen nie, Hy het dit gedoen omdat Hy vir ons innig lief is. Watter mens sal dit doen? Ons moet negatiewe omstandighede gebruik om nog nader aan Hom te kom en in sulke omstandighede Sy troos en vrede te ervaar. Hoe meer mense nader aan die Here leef, hoe meer sal hulle Hom gehoorsaam en dus sal daar minder menslikke leiding wees. dis nie GOD wat straf nie.