Gedagte vir die dag: Loof God vir sy Woord

 kers_bybel_lig_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. (Psalm 119:105)

God se woorde is met ’n doel vir ons nagelaat, loof en prys Hom daar­voor. Dit is die lig waarmee ons elke tree wat ons neem, verlig en elke vraag wat ons het, beantwoord. Dit is nie oud en uitgedien nie, dis vandag nog net so van toepassing soos eeue gelede toe God besluit het om mense te leer wat reg en verkeerd is. Adam en Eva het van die boom van alle kennis geëet, maar het nie verstaan hoe om hul nuutgevonde kennis toe te pas nie. Van nuuskierigheid maak mense vandag nog dom draaie en struikel dan voel-voel in die donker rond.

God se Woord werp lig op al ons vrae. Dit is ’n skatkis gepak met goeie raad en baie mense se lewenswyshede, mense wat deur die Here God be­geester is. Dit speel af teen die geskiedenis van God se wandel met Israel en sy allesomvattende verlossingswerk deur Jesus. Ons leer die Wet van Moses ken, ook Jesus se interpretasie daarvan. Trouens, die basiese wette van ’n beskaafde samelewing word van Genesis tot Openbaring aan ons voorgehou. Ons ontvang onderrig in goeie maniere en kry tot ’n paar lesse in etiket.

Salomo se wyse raad strek van goeie tafelmaniere tot ernstige waarsku­wings. ‘As jy aansit om saam met ’n hoë amptenaar te eet,’ het hy gesê, ‘wees tevrede met wat jou voorgesit word en bedwing jou as jy ’n groot eetlus het’ (Spr 23:1–2). Dis ook hy wat gesê het: ‘Daar is geen mens op aarde regverdig nie, niemand wat net goed doen en nie sondig nie’ (Pred 7:20). Geen boek wat nog geskryf is, het meer diepte en gee meer insig as die Bybel nie – en ek het nou maar net vir Salomo aangehaal.

Dankie, Here vir u Woord, my Troosboek en my Prysboek.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jg ·

Halloo daar,

Ek wil so graag die Woord van die dag en dag stukkies copy en paste op word dokumente, wat ek dan later gebruik vir gesprekke en bybelstudie en verwysings vir my seun.

Kan n man dan nie n plan maak nie!!

Groete,

JG van der Merwe – 0832977765

Johann ·

Jg, mens kan nie eens meer op Maroela iets wat mens vooraf in Word dok met ‘n speltoetser opgestel het, copy en hier paste nie. Jy moet nou als self woord vir woord tik omdat hulle seker wil wees dat al die woorde jou eie is. Mens moet maar, of met die woordeboek langs jou sit as jy nie geseen is met spelling nie, of jy moet maar net laat waai en vir die beste hoop.

SNEL ·

Die 1933 vertaling se bewoording bly maar die beste! Iemand het eendag gesê, watse Bybel is die beste of moet ek lees en die antwoord was; maak nie saak nie, lees net n Bybel, maar dis regtig jammer dat daar so baie vertalings is en tekse selfs uit van die Bybels verwyder is en dat dit met die tyd die Woord afgewater maak. 1933 sal my voorkeur bly en ook die KJV.

Ek sukkel ·

Ek sukkel met in die hoofopskrif met ‘sy’ of eerder ‘Sy”.
Ook met die aanhaling onderaan met “Dankie, Here vir u Woord . . . ” of eerder “Dankie, Here vir U Woord . . . “

Sune van Heerden ·

Dagsê

Die gebruik van hoofletters by Bybelse/bybelse eerbiedsbenaminge kan verwarring veroorsaak. Die besitlike voornaamwoord word nie met ‘n hoofletter gespel nie, en die gebruik in die betrokke “Gedagte vir die dag” is dus akkuraat.

1. Eiename word met hoofletters geskryf. Daarom is woorde soos God, Almagtige, Jesus, Here, Skepper, Allerhoogste, Christus, Heilige Gees (maar “die Heilige Gees”), soortname wat as eiename optree (Weg, Waarheid, Lam, Kind, Seun, Verlosser, Vriend, Koning, Rots) die naam van die geskrif (Bybel, Skrif, Woord), die name van boeke waaruit die geskrif bestaan (Openbaring, Prediker), die name van figure in die persone of figure in die geskrif (Satan, Leviatan, Maria, Daniel) en die name van plekke (Jerusalem, Israel, Palestina) met hoofletters.
2. Die persoonlike voornaamwoorde waarmee daar na God/Christus/die Heilige Gees verwys word, is met hoofletters. “Toe sê Hy vir hulle …”, “Hulle het voor Hom gekniel …” en “Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is.” Die voornaamwoorde wat nie met hoofletters geskryf word nie, is dié wat besit aandui: “Hulle het spykers deur sy hande gekap.”
3. Soms is ‘n uitdrukking soos “my verlosser” of “my rots” met kleinletters, soms met hoofletters. Vorige uitgawes van die AWS het bepaal dat aanspreekvorme (“Jesus, Verlosser en Vriend”) met hoofletters gespel word. As dit bloot figuurlik is (“Die Here is ‘n rots waar ek veilig skuil.”) sal dit klein wees omdat dit nie as eienaam of aanspreekvorm gebruik word nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.