Lees: Eksodus 20:1-17
Jy moenie afgunstig raak op ’n ander se eiendom nie. Jy moenie sy vrou, sy manlike of vroulike werkers, sy beeste of sy donkies of enigiets wat hy besit vir jouself begeer nie. (Eksodus 20:17, NLV)
Dit is ons gesin se gewoonte om klein geskenke met Kersfees te gee en die groter geskenke vir verjaarsdae te bêre. Daar was ’n tyd toe ons eie kinders baie ontevrede met hierdie reëling was – hulle moes jaar na jaar toekyk hoe hulle boeke en speelgoed kry, terwyl hulle nefies met fietse en videospeletjies bederf is.
Miskien voel jy ook hier in die Kerstyd ontevrede as jy na die mense om jou se besittings kyk en jou bure se deftige Duitse motor met jou eie stokou skedonkie vergelyk, of jou vriendin se ontwerpersklerekas met jou eie tuisgemaakte rokke. Dalk meen jy dat die Gewer van alle gawes jou afgeskeep het en wonder jy hoekom.
Maar jaloesie – wat dikwels sy kop met Kersfees uitsteek – is een van die emosies wat maak dat jy nie langer in liefde en dankbaarheid saam met jou hartsmense kan feesvier oor Jesus se geboorte nie. Ons moet verstaan dat jaloesie eintlik gaan oor woede vir God, sê een van ons gemeentepredikante in ’n Kerspreek. Kersfees is nie net ’n tyd om te gee nie, maar ook ’n tyd om te onthou wat God alles vir jou gegee het – en om daarvoor dankbaar te wees. God gee vir jou sy onwankelbare koninkryk as jy aan Hom behoort – al die ander dinge waaroor jy so jaloers is, gaan verby, maar jou verhouding met God bly vir altyd.
Vergewe my Here, dat ek ook al jaloers was oor die besittings van ander. Dankie vir my verhouding met U wat vir altyd bly. Amen.