Gedagte vir die dag: Loop lig vir die duiwel!

Donker_vallei_woud_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. (1 Petrus 5:8-9)

Petrus is maar te bewus van die feit dat die duiwel baie gevaarlik is, en waarsku sy lesers dat hulle op hulle hoede vir hom moet wees. Die duiwel loop rond soos ’n brullende leeu op soek na ’n prooi wat hy kan verslind, skryf hy. Christene behoort hom nooit uit hul eie krag te probeer aanvat nie, maar moet God vir die nodige krag vra om hom teen te staan.

Petrus sluit sy eerste sendbrief af met ’n pragtige, gerusstellende belofte aan sy lesers wat so gewoond daaraan is om swaar te kry: “God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort rukkie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.” Ek wil graag hierdie seënwens aan jou oordra.

Hemelse Vader, help my asseblief om die duiwel teen te staan. Dankie vir die belofte dat U my ná my aardse lyding self weer sal oprig en my moedig, sterk en standvastig sal maak. Amen.

Bron:
Geskenk van genade deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.