Gedagte vir die dag: Loop op die water

Storm_see_rotse_golwe_boekevat_ChristoBrits.jpg

Argieffoto: Christo Brits

Lees: Matteus 14:26-32

Toe die dissipels Hom so op die see sien loop, was hulle verskrik, en hulle het benoud begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook. Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.” (Matteus 14:26-27)

Wanneer ’n mens vroegoggend in die dynserige lig met ’n vissersboot op die See van Galilea vaar, ervaar jy ’n innerlike vrede. Jy ervaar ’n dankbaarheid vir die voorreg om daar te kan wees. En ’n mens dink ook onwillekeurig aan die bekende verhaal van Petrus wat een onvergeetlike nag op die water na Jesus toe geloop het.

Dit was ’n stormagtige nag en die dissipels was baie benoud toe hulle iemand op die water na hulle toe sien aankom. Hulle het gedink dis ’n spook. Jesus stel hulle egter gerus. Petrus, die alewige twyfelaar, sê dan as dit werklik die Here is, moet Hy hom op die water na Hom toe laat loop. Ons ken almal die uiteinde van die verhaal – Petrus het gesink. Ons vergeet egter te gou dat hy vir ’n kort rukkie genoeg vertroue gehad het om op die water na Jesus toe te loop. Dit was te midde van die storm die veiligste plek om te wees: by Jesus die stormloper op die water. Ek sou ook eerder by Hom wou wees as in ’n vissersboot wat kon sink.

Ons wil so graag altyd net veilig wees. Jesus soek nooit die veilige plekke nie. Nee, Hy loop juis in storms rond. Sy werk lê in die storms van die lewe. Hy red mense in onveilige plekke. Hy ontmoet jou vandag in die storm van jou eie lewe. Hoor jy sy stem? Hy roep jou naam, Hy sal jou vang voor die storm jou verswelg. Gryp sy uitgestrekte hand en roep sy Naam. Hy sal jou gebed verhoor net soos Hy na Petrus se hulpgeroep geluister het.

Ons onthou Petrus vir hoe hy gesink het, maar voor dit het hy op die water geloop. Loop vandag met jou hand in die Here s’n op die water deur jou eie storm.

Here, dit voel vir my of die stormwaters van die lewe my gaan verswelg. Help my! Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.