Gedagte vir die dag: Los die bagasie van die verlede

Argieffoto (Foto: africanreservations.com)

Argieffoto (Foto: africanreservations.com)

Een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. (Fil 3:13-14)

Lees Filippense 3:10-16

Paulus pak die uitdagings wat voor hom lê met die regte gesindheid aan. Hy steur hom nie aan die dinge wat in die verlede skeefgeloop het nie, maar hy strek hom uit na die nuwe dinge wat voor hom lê. Hy span alles in om eerste oor die wenstreep te wees sodat die hemelse prys waarvoor God hom geroep het, syne kan wees.

Baie mense begin ’n nuwe jaar terwyl hulle steeds steier onder die swaar bagasie van die jaar wat verby is. En dit is só onnodig. “As môre se las saam met gister s’n gedra word, laat dit selfs die sterkste swig,” sê Harvey Cushing.

Miskien is daar ook foute en mislukkings wat jy in die jaar wat verby is, begaan het. Begin vanjaar sónder die las van die dinge “wat agter is” en span jou in om die wenstreep te bereik. Die hemelse prys wag vir elkeen van ons. Hou sommer nou op om te stres oor alles wat in die jaar wat verby is, verkeerd geloop het, vergeet van jou mislukkings – of nog beter, léér van hulle en moenie dieselfde foute twee keer maak nie.

Hemelse Vader, help my asseblief om die onnodige bagasie van die verlede agter my te laat, om vanjaar met ywer en entoesiasme te leef en my in te span sodat u hemelse prys myne sal wees. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.