Gedagte vir die dag: Los die lafhartigheid!

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: crosswalk.com

Lees: 2 Timoteus 1:6-14

Die Gees wat God ons gegee het, maak ons nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. (2 Timoteus 1:7)

Iemand het gesê vrede is vrees wat gebid het.  Die meeste mense het al ervaar dat wanneer hulle baie bang vir iets is, dit help om daaroor te bid.  Ek sou beslis nie deur al my optredes gekom het sonder die gebede van my gebedsketting nie.  Daar is twee woordgroepe wat in die Bybel met “vrees” vertaal word.

Die eerste groep hou verband met die stamwoord phobos – waarvan ons woord fobie afgelei word.  Wikipedia se definisie van ’n fobie is ’n oorheersende of sinnelose vrees wat met ’n bepaalde situasie of voorwerp verband hou wat normaalweg nie vreeswekkend behoort te wees nie.  Ons kry baie verskillende fobies: Kloustrofobie is die vrees vir noutes, aragnofobie die vrees vir spinnekoppe en pirofobie die vrees vir vuur.

Die tweede woordgroep is afgelei van die Griekse woord deiliao, wat beteken om lafhartig te wees.  Dit is hierdie woord waarvan Paulus in ons kernteks praat.  Dit is dié tipe vrees wat keer dat ’n vrou dokter toe gaan as sy ’n knop in haar bors voel.  Dit is nie God se wil dat sy kinders onder hierdie tipe vrees gebuk gaan nie.  Die Heilige Gees vrywaar ons hiervan, skryf Paulus vir Timoteus; Hý vul ons met krag, liefde en selfbeheersing.  As jy weer ervaar dat daar ’n gevoel van lafhartigheid oor jou kom, bid dat die Heilige Gees dit sal wegneem en jou lewe met sy krag, liefde en selfbeheersing sal vul.

Here, vergewe my dat ek so baie keer lafhartig is – te bang om iets te doen wat ek weet nodig is.  Baie dankie vir u Gees in my lewe wat my in sulke situasies van u krag, liefde en selfbeheersing voorsien.  Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.