Gedagte vir die dag: Los jou kommer by Hom   

Stiltetyd_sonsondergang_vrou_Juanita.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg. (1 Petrus 5:7)        

Die meeste van ons weet dat God probleme kan oplos op maniere waaraan ons glad nie eens kon dink nie. Ondervinding het ons ook al geleer dat – wanneer ons dinge in sy hande los – Hy wél op die regte tyd antwoorde gee. Tog maak ons menslike natuur van ons kommerslawe! Heel dikwels laat ons toe dat spanning en bekommernis ons onderkry en keer op keer bewys God aan ons hoe getrou Hy is; dat Hy ons nooit in die steek laat nie en dat Hy onverpoos vir ons sorg. Kom ons bid dat die Vader ons kleingeloof-vroueharte gróót sal maak en dat Hy ons die kuns sal leer om Hom régtig te vertrou.

Kom ons bid verder dat Hy ons van sy almag en goedheid sal oortuig sodat ons in staat sal wees om ons kommer met vertroue vir Hom te gee … en dit daar te los.

Met behulp van die Gees kán jy die vermoë aanleer om ’n kommerlose en vrý kind van die Allerhoogste te wees.

Here, dis só wonderlik om U met gemoedsrus te vertrou!

Bron:
Moed vir elke môre deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.