Gedagte vir die dag:  Losmaak en vasmaak

woestyn_israeli_kameel_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here. (Genesis 12:4)

Vir Abram, die vyf en sewentig-jarige grysaard, kon dit nie maklik gewees het nie. Trek weg, weg van jou mense, weg van jou familie na die land toe wat God jou sal wys. Eers het Abram saam met sy pa uit Ur van die Galdeërs getrek, na Haran, tussen die twee riviere Tigris en Eufraat. Maar Abram moes verder: weg van die Galdeërs met hul gode na Kanaän waar die Here, die enigste ware God, Hom aan Abram sou bekendmaak.

Abram moes wegtrek, losmaak, van alles wat vir hom belangrik was: sy geboorteland, sy tradisie, die gode wat hy aanbid het, sy planne vir hom en sy beeldskone vrou, Sarai. Hy moes sy sekuriteite laat vaar, dit uit sy gemaksone waag.

Dieselfde geld vir ons: Om op God se roeping te antwoord beteken dat ons ook alles waaraan ons vantevore vasgehou het, wat vir ons sekerheid en sekuriteit verseker, eenkant toe moet skuif. Ons moet op God alleen vertrou! Dis wat Jesus van sy dissipels verwag: Om alles prys te gee, om jou kruis op te tel om Hom te volg, al kos dit jou jou lewe.

Maar jy moet nie net laat los nie. Jy moet ook vasmaak, vasgryp. Dis wat Abram geleer het. Hou vas aan God en sy beloftes. Hou vas aan sy hand, leef uit sy Woord. Vir Abram moes dit ongelooflik geklink het: Hy, die vader van ’n groot volk? Hoe kan dit – hy en Sarai is kinderloos! Kon hy raai op watter wonderbaarlike manier sy geloof beloon sou word? Van sy nageslag, van die Redder van die hele wêreld wat uit Israel gebore sou word?

Dink na oor vandag se reis: Wat moet ek loslaat en wat moet ek vashou?

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

Die Bybel sê dat Sarai saam getrek het en op hul ou dag is Isak gebore.

GOD is altyd getrou al lyk als vir die mens onmoontlik.

Ek is elke dag bewus dat GOD alleen doen wat vir ons onmoontlik is.

‘n Geseënde jaar vir Maroela Media se personeel.

Yvonne ·

Here ek staan weereens in verwondering oor U almag..U betrokkenheid by n geringe mens. Aan U die lof, eer en dank…Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.