Luister: Bid vir Noord-Korea

Mense bring hulde aan voormalige leiers Kim II Sung (links) en Kim Jong II by hul standbeelde op Mansu-heuwel ter herdenking van die “Dag van die son” in Pyongyang in Noord-Korea. (Foto: Cha Song Ho, AP)

Daar is na raming sowat 400 000 Christene in Noord-Korea. Dié Christene leef hulle geloof in die geheim uit omdat hulle summier doodgemaak of in onmenslike strafkampe aangehou sal word vir hulle oortuigings as dit enigsins aan die lig kom.

Volgens Vicky Kente, woordvoerder van Geopende Deure Suider-Afrika, ʼn organisasie wat vervolgde Christene wêreldwyd ondersteun en versterk, word daar geskat dat tot 70 000 Christene tans in Noord-Koreaanse tronke is, waar hulle in haglike omstandighede moet probeer oorleef.

“Geopende Deure Internasionaal se wêreldwaarnemingslys wys dat die vlakke van vervolging in Noord-Korea in 2021 rekordhoogtes bereik het. Hierdie land was die afgelope 20 jaar in die topposisie op die lys wat die 50 lande in die wêreld aandui waar Christene die ergste vervolging vir hul geloof deurmaak,” sê Kente.

Hoewel Noord-Korea die topposisie in die jongste wêreldwaarnemingslys aan Afghanistan afgestaan het en nou die tweede plek op die lys beklee, beteken dit geensins dat die vervolging van Christene in hierdie land afgeneem het nie.

“Inteendeel, die vlakke van vervolging in Noord-Korea is hoër as ooit tevore. Die daling na die tweede posisie op die lys is slegs omdat die vervolging van Christene in Afghanistan ná die Taliban se oorname skrikwekkend erg toegeneem het.”

Hoe kan ons help?

Volgens Kente vra vervolgde Christene dikwels eerste vir gebed omdat dit hulle te midde van ernstige vervolging versterk.

“Hulle weet dat hulle nooit alleen is nie wanneer hulle geloofsfamilie oor die hele wêreld saam met hulle bid.”

Om dié rede het Geopende Deure ʼn Wêreldwaarnemingslys-gebedskaart saamgestel wat ʼn mens gratis op www.opendoors.org.za aflaai. Die gebedskaart wys die top-50 lande vir 2022 en gee ook meer inligting en spesifieke gebedspunte.

“Só kan ons ons broers en susters in Christus in gebed ondersteun en versterk.”

Bid vir Noord-Korea:

  • Bid vir Christene wat in die geheim aanbid, Christene wat in die tronk is, en die families van Christene wat in hegtenis geneem of doodgemaak is. Vra God om by hulle te wees en om hulle te versterk om hoop te vind en te sien hoe sy hand in hul lewe werk.
  • Bid vir die hart van Kim Jong-un en die ander leiers van die Noord-Koreaanse regime. Die Kim-familie regeer al lank en is brutaal gekant teen God se mense. Bid vir ʼn hartsverandering sodat Kim die prag van die evangelie en Jesus se liefde vir hom sal sien.
  • Geopende Deure se netwerke in China is noodsaaklik om die Noord-Koreaanse Kerk aan die gang te hou. Talle Christene wat na skuilhuise in China vlug, keer terug huis toe, toegerus om die evangelie te versprei. Bid vir die sukses en veiligheid van hierdie skuilhuise, en vir die reise van Noord-Koreaanse Christene wat die gevaarlike tog na en van China aandurf.

Vicky Kente, woordvoerder van Geopende Deure Suider-Afrika, het met Maroela Media gesels oor hoe Christene in Noord-Korea ondersteun kan word. Sy het die getuienis van Timothy Cho gedeel wat die Tumenrivier tussen Noord-Korea en China as jong seun oorgesteek het en later tot Christen bekeer is. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Miskruier

Die beelde laat my dink aan die ou testament. Mense kniel voor afgode.

Yvonne

Here wees U kinders genadig