Luister: Bring hoop aan kinders van die vervolgde kerk

Meisietjies lees die Bybel in Laos. (Foto: Geopende Deure)

In lande met voortslepende konflik is Christen-kinders uiters kwesbaar. Christen-seuns word dikwels gedwing om by militêre groepe aan te sluit, terwyl meisies aan seksuele geweld blootgestel word en in huwelike gedwing word.

Dit is sommige van die bevindinge in die bedieningsorganisasie Geopende Deure Internasionaal se jongste verslag getiteld “Kinders en jeug-spesifieke godsdienstige vervolging 2021”.

Die verslag wys dat in minstens 28 lande die kinders van Christene en kerkleiers met ernstige gewelddadige vervolging geteiken word en as ʼn soort kommoditeit behandel word. Dié soort vervolging neem ook wêreldwyd toe en kinders moet dikwels ʼn verskriklike prys vir hul ouers se Christelike geloof betaal.

Die verslag bevat die bevindings oor vervolgde kinders en jeug in die top-50 lande op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys, wat ʼn jaarlikse lys is van die 50 lande in die wêreld waar dit die moeilikste is om ʼn Christen te wees, met vervolging wat baie hoog of ekstreem is. Vir die doeleindes van die navorsing is kinders en jeug gereken as individue wat jonger as 18 jaar is.

Belangrikste bevindings

Christen-seuns vanuit ʼn Moslem-agtergrond in Bangladesj. (Foto: Geopende Deure)

Die sewe belangrikste bevindings in die verslag is:

  • Kinders en jeug word geteiken om te verhoed dat die volgende generasie die kerk opbou. Christen-gemeenskappe loop die gevaar om van die jong generasie ontneem te word, sowel as van die toekomstige stigters van families of leiers in die Christen-geloof, aangesien kinders en jeug die potensiaal het om die kerk te laat herleef en te verewig.
  • Die kinders van kerkleiers en bekeerlinge in minstens 28 lande word deur oortreders geteiken, met oortredings teen die kerk se kwesbaarste en magteloosste lede. Dit is ʼn vorm van straf wat teen hul ouers gemik is.
  • Die vervolging van kinders is daarop gemik om jong mense se emosionele, sielkundige en godsdienstige identiteit negatief te verander. Aangesien hulle op ʼn stadium van hul lewens is waar hul identiteit beïnvloedbaar en in die proses van vorming is, beperk dit die keuses wat aan hulle beskikbaar is deur hulle te beïnvloed om selfbeperkend op te tree rakende die geleenthede en regte wat hulle nastreef en internaliseer dit die dominante godsdienstige of ideologiese identiteit.
  • Die top-drie drukpunte vanaf staatsinstellings en die samelewing is diskriminasie en teistering deur onderrig; die weiering van toegang tot Christelike materiaal, onderrig en rituele; en die weiering van toegang tot Christen-ouers. Gesamentlik verhoed dit die volgende generasie om in hul vormingsjare meer oor die Christelike geloof te leer.
  • Kinders en jeug word as kommoditeite en produkte behandel, wat by ander geloofsgroepe ingelyf word of gedwing word om hulle te dien, eerder as om hulle soos individue te behandel wat integrale lede van hul gemeenskappe met inherente waardes en individuele menseregte is.
  • Breedweg word beide wettelose optrede en wetgewing in verskillende grade en kontekste gebruik as ʼn manier van godsdienstige diskriminasie en/of vervolging. Christen-kinders en jeug is veral kwesbaar in gebiede wat erg deur konflik geraak word. In Afrika suid van die Sahara is onwettige geweld ʼn algemene metode van onderdrukking, terwyl staatswetgewing in die Midde-Ooste en Noord-Afrika dikwels gebruik word om toegang tot ʼn wettige identiteit as Christene en Christelike godsdienstige onderrig te weier.
  • Die vervolging van kinders en jeug is onlosmaaklik verbind tot geslagspesifieke godsdienstige vervolgingsdinamika. Soos wat seuns en dogters hul adolessensie nader, word die godsdienstige vervolging wat hulle ervaar toenemend deur hul geslag bepaal. Seuns in sommige Afrikalande en Latyns-Amerikaanse lande ervaar dikwels die bedreiging van gedwonge werwing vir militante groepe, terwyl meisies wêreldwyd teen ʼn hoë tempo aan seksuele geweld en gedwonge kinderhuwelike blootgestel word.

Kinders moet beskerm word

ʼn Jong seun en meisietjie in Afganistan. (Foto: Geopende Deure)

“Kinders en jeug-spesifieke vervolging is ʼn ernstige kwessie wat kinders se welstand en geleenthede direk beïnvloed. Soos wat die onlangse verslag wys, kom vervolging in verskillende vorms voor. Die bedoeling daaragter is egter deurentyd om die Christelike geloof en die voortsetting van die kerk te stop of te bemoeilik.

“Ek is hartseer oor die realiteit van hierdie kwessie en die vernietiging wat veroorsaak word deur vervolging wat op ons geloofsfamilie se kinders gemik is. Ons moet saamstaan om hulle te beskerm,” sê Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika.

“As ʼn vrou, Christen en maatskaplike werker, breek die vervolging van kinders my hart. Kinders is so kwesbaar en weerloos. Hulle is van volwassenes afhanklik vir beskerming, leiding en voorsiening.

“Kinders moet gekoester word, want die Bybel waarsku ons om hulle nie op ʼn dwaalspoor te lei of skade te berokken nie. Daarom is enige vorm van kindervervolging minagtend, donker en boos; dit het ʼn vernietigende uitwerking op die hele samelewing,” voeg Ingrid Smit, ʼn plaaslike maatskaplike werker, by.

Volgens pastoor Jackie Gouws, ʼn senior pastoor by die Rustenburg Baptistekerk, moet kinders goed ingelig word oor vervolging en geleer word oor die gevare wat hulle weens hul geloof kan ervaar.

“Vervolgde kinders moet besef dat Jesus ook vir sy geloof vervolg is en dat sy volgelinge weens hul geloof vervolg sal word. Dit is van kardinale belang om kinders in die ‘vrye’ Westerse wêreld in te lig oor die lewe in lande waar daar ernstige vervolging is – dit sal hulle help om bewus te wees van die swaarkry wat vervolgde kinders ervaar.”

Errol Otto, jeugleier by die Pinksterkerk in Kraaifontein, sê: “Kinders is ʼn lewende boodskap van die toekoms wat ons generasie nie sal sien nie. Ons moet onskuldige jeugdiges in ons gemeenskap help om sterk te staan teen vervolging. Dankie aan Geopende Deure vir hulle ondersteuning om vervolgde kinders met kos, ʼn veilige blyplek en geleenthede om skool toe te gaan, te help. Mag die Here aanhou om hierdie bedieningsorganisasie te gebruik om sy werk te doen en om kennis oor vervolging regoor die wêreld te versprei.”

  • Help om die vonk van hoop hierdie Kersfees vir vervolgde kinders lewend te hou. SMS net “MAROELA en jou NAAM” na 43699 om ʼn Kersgeskenk te gee. Standaard SMS-tariewe geld.
  • Vicky Kente, woordvoerder van Geopende Deure Suider-Afrika, het met Maroela Media gesels oor die vervolging van Christen-kinders. Sy het die verhale van twee kinders wat ernstige vervolging oor hulle geloof ervaar gedeel. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie artikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Waarnemer ·

Presies wat in Suid Afrika gebeur….Op skool word allerhande sogenaamde godsdienstige gelowe beoefen en die ware Godsdiens,die bybel word uit gesluit.Tipies van die kommunistiese aard om Godsdiens van die jeug af weg te neem en n klomp snert met afgode dienste aan hulle op te dis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.