Gee vonk van hoop vir vervolgde Christen-kinders

kersfees creative commons wikimedia

(Argieffoto: “Nativity tree 2011” deur Jeff Weese, Flickr via Wikimedia Commons)

Kersfees is in die Christelike kultuur tradisioneel ʼn tyd van vreugde waartydens ons op Jesus fokus en sy geboortedag vier. Vervolgde Christene elders in die wêreld se Kersfeesviering verskil aansienlik van dit waaraan ons gewoond is.

Miljoene gelowiges het nie die voorreg om ʼn sorgvrye Kersfees saam met hul geliefdes te geniet nie, want hulle moet in die Kerstyd nog meer struikelblokke as gewoonlik trotseer.

“Dit is vir hulle ʼn uitdagende tyd waarin hulle verskerpte vervolging, alleenheid en verwerping in hul gemeenskappe ervaar – alles omdat hulle Jesus liefhet,” verduidelik Vicky Kente, woordvoerder van Geopende Deure Suider-Afrika.

“Hierdie tyd word nie deur enige feesviering gekenmerk nie. Gelowiges is huiwerig om die Here openlik te dien in die Kerstyd of op Kersdag uit vrees om aandag te trek en vervolg te word.”

Volgens Kente kry Christen-kinders besonders swaar in dié tyd en betaal ʼn prys vir hulle ouers se geloof.

“Baie van hulle ken glad nie ʼn Kersboom nie en ontvang ook geen geskenke op Kersdag nie. Kersfees vir die kinders is bloot ʼn stille gebed, miskien ʼn kersie wat in die geheim aangesteek word saam met hulle gesin.

“Vir baie van die kinders is Kersfees ʼn moeilike tyd omdat hulle dink aan hulle ouers wat dit nie saam met hulle kan vier nie.”

Kente deel die verhaal van Rafif*, ʼn 11-jarige Christen-meisie van Irak, wat Kersfees sonder ʼn pa moet vier.

“Haar pa Raddif* het voor haar geboorte ʼn gewelddadige aanval op ʼn bus vol Christen-studente afgeweer. Hy het al skreeuende direk in die gevaar in gehardloop om hulle te waarsku teen die plofstof wat in die pad van die bus geplaas is. Die busbestuurder kon gelukkig betyds stilhou. Slegs een van die studente is in die voorval dood, maar Raddif is dood toe die bom ontplof het.”

Volgens Kente worstel Rafif steeds met die vraag oor waarom haar pa vir Jesus moes sterf. Dit is vir haar pynlik as haar vriende oor hulle pa’s praat en sy vra die Here dan waarom haar eie pa dood is voordat sy hom kon ontmoet. Dit maak haar ook hartseer wanneer sy sien hoe haar vriende Kersdag geniet terwyl hulle tyd saam met hul geliefdes deurbring. Die skerp verlange na haar eie pa raak dan soveel erger, en sy besef dan net weer dat hy nie by hulle Kersfeesviering teenwoordig is nie.

Sy het egter ʼn spesiale manier om hom in die Kerstyd te onthou. Haar pa het voor haar geboorte ʼn pragtige handgemaakte nabootsing van Jesus se geboortetoneel met die figure van Maria, Josef en Jesus gemaak. Dit het na sy dood behoue gebly en sy rangskik dit elke jaar sorgvuldig as sy en haar ma, Lilian, die Kersboom versier. Wanneer sy dit aan die Kersboom hang, laat dit haar aan haar pa dink. Dit voel dan vir haar of hy by hulle Kersfees teenwoordig is.

“Hoewel sy nie ʼn Kersete met haar pa kan deel nie, weet sy dat sy aan Jesus kan vashou om haar te troos en te versterk.”

Kente sê kinders soos Rafif is uiters kwesbaar vir vervolging, veral in gebiede wat voortdurend konflik ervaar. Duisende kinders regoor die wêreld ervaar vervolging, geweld en diskriminasie weens hul geloof. Hulle word geteiken om te verhoed dat die vervolgde kerk deur die volgende generasie groei en uitgebrei word.

Die realiteit is dat Christene en kerkleiers se kinders in minstens 28 lande deur ernstige gewelddadige vervolging geteiken word en as kommoditeite behandel word. Dit is ʼn algemene verskynsel dat seuns gedwing word om deel te word van militêre groepe, met meisies wat seksuele geweld en gedwonge huwelike deurmaak.

“Danksy die ondersteuning van Geopende Deure se vennote kan ons hierdie kinders help en beskerm. So verseker ons vir hulle ʼn beter toekoms en die vonk van hoop word in hul lewens lewend gehou.”

Die publiek kan vandag nog hoop vir vervolgde Christen-kinders gee deur hulle met ʼn finansiële Kersgeskenk te seën. Dit sal aangewend word vir hulpmiddels soos Bybelonderrig, Christelike materiaal, basiese skoolonderrig en noodlenigings.

SMS net MAROELA en jou naam na 43699 om ʼn Kersgeskenk te gee. Standaard SMS-tariewe geld.

  • Vicky Kente, woordvoerder van Geopende Deure Suider-Afrika, het met Maroela Media gesels oor die organisasie se Kersfees-veldtog wat ʼn mens opnuut bewus maak van hulle bystand aan vervolgde Christene in hierdie tyd. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

*Skuilname word gebruik om die Christene teen verdere vervolging te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andries ·

Die voortgesette viering van Kersfees kom neer op moedswillige onkunde. Die ware YESHUA is gebore op die 15 Tisri op die Bybelse kalender – die eerste dag van die LOOFHUTTEFEES en besny op die 8ste dag – Shinchat TORA. Kersfeesvier is soos om die mantel van die waarheid aan die kapstok van die leuen op te hang.

Nietemin: my hart bloei vir die dapper gelowiges wat hierdie bittere vervolging moet verduur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.