Luister: Geopende Deure herdenk Vervolgingsondag

(Argieffoto)

Die bedieningsorganisasie Geopende Deure Suider-Afrika het ʼn spesiale veldtog bekendgestel om Vervolgingsondag op 12 Junie te herdenk. Hierdie veldtog is daarop gemik om kerke en ander Christelike organisasies aan te moedig om betrokke te raak en hande te vat om bewustheid oor die swaarkry van vervolgde Christene te skep.

Die eerste Sondag ná Pinkster is wêreldwyd bekend as Vervolgingsondag. Hierdie dag beklemtoon die intense vervolging wat Christene in talle lande vir hul geloof moet verduur, met gelowiges wat dikwels tronkstraf, diskriminasie, verwerping, marteling en selfs die dood deurmaak.

Baie mense besef nie dat die vervolging van Christene al eeue gelede begin het en vandag nog ʼn realiteit is nie. Die vervolging van Christene het kort ná Jesus se Hemelvaart begin, toe ʼn groep van Sy volgelinge in die vroeë Kerk ná Pinkster in Jerusalem bymekaargekom het om saam te bid. Nadat hulle met die Heilige Gees vervul is, het hulle begin om die Goeie Nuus van Christus te versprei en het die vervolging van die vroeë Kerk momentum gekry.

ʼn Stem vir vervolgde Christene

Geopende Deure is ʼn stem vir vervolgde gelowiges in meer as 60 lande oor die wêreld heen. Meer as 360 miljoen Christene ervaar hoë vlakke van vervolging en diskriminasie weens hul geloof – ʼn styging van 20 miljoen sedert verlede jaar. Dié getal verteenwoordig een uit sewe Christene wêreldwyd.

Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure, sê hierdie veldtog is daarop gemik om Vervolgingsondag op die agendas van soveel kerke en ander Christelike organisasies as moontlik te kry.

“Ons doen ʼn beroep op mense om betrokke te raak en die boodskap van vervolging na alle uithoeke van die land te versprei. Ons wil elke kerk in Suid-Afrika daarby betrek om Vervolgingsondag gedurende hul eredienste op 12 Junie te herdenk.”

Maniere om betrokke te raak

Individue, kerke en ander organisasies kan op die volgende maniere betrokke raak en bewustheid in hul gemeentes skep:

  • Wees ʼn spreker by jou kerk op Vervolgingsondag: Enigeen kan ʼn stem wees vir vervolgde Christene wat nie in staat is om vir hulself te praat nie, deur ʼn vrywillige spreker by hul eie kerk te wees op 12 Junie. Dit is die ideale geleentheid om die boodskap van die vervolgde Kerk te help versprei.
  • Nooi een van Geopende Deure se vrywillige sprekers na jou Sondag-erediens: Geopende Deure se vrywilligers gaan op Sondagoggend 12 Junie persoonlike aanbiedings by kerke landwyd doen. Hulle sal getuienisse deel oor die opofferings wat vervolgde Christene vir hul geloof maak en hoe Jesus Christus daardeur getrou bly en verheerlik word.
  • Sluit aanlyn by Geopende Deure aan: Die publiek, groepe en kerke kan ook by Geopende Deure aansluit vir verskeie aanlyn geleenthede regdeur die dag. Aanlyn aanbiedings gaan in Engels, Afrikaans en Zoeloe gedoen word. ʼn Spesiale sessie wat spesifiek op kinders gemik is, gaan ook aangebied word. Al die aanlyn aanbiedings gaan vanaf 09:00 in die oggend tot 21:00 in die aand beskikbaar wees.

Gebeier van kerkklokke

Geopende Deure doen ook ʼn beroep op Christelike kerke om hul kerkklokke om 09:00 op Sondagoggend 12 Junie te lui om die boodskap van vervolging te benadruk. Hoewel baie kerke nie meer hul klokke lui nie, sal dit wonderlik wees as talle kerkklokke op hierdie tyd in solidariteit met vervolgde Christene kan lui.

Mense in Suid-Afrika besef nie altyd hoe bevoorreg hulle is om steeds die vryheid te hê om hul kerkklokke te lui nie. In baie lande is hierdie tradisie verbode en word die klank van kerkklokke al jare lank nie meer gehoor nie. Regerings wat vyandiggesind teenoor die Christendom is, verbied hul burgers om kerkdienste te hou wat met die gelui van klokke gepaardgaan. Dit is in ooreenstemming met ʼn neiging om Christelike kerke stil te maak en gelowiges te vervolg. Ondanks hierdie vyandigheid is baie gelowiges steeds bereid om vervolging te verduur en die Evangelie te versprei.

Dus sal die weerklank van kerkklokke in baie dorpe en stede reg oor die land op dieselfde tyd ʼn wonderlike gebaar wees om die boodskap te versprei van Christene wat weens hul geloof vervolg word.

  • Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, besoek Geopende Deure se webtuiste by Opendoors.org.za.
  • Vicky Kente, woordvoerder van Geopende Deure Suider-Afrika, het met Maroela Media gesels oor Vervolgingsondag wat op 12 Junie vanjaar herdenk word. Sy het verduidelik hoe jy by die organisasie se bewusmakingsveldtog betrokke kan raak. Luister na die volledig gesprek boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.