Luister: Help vervolgde Christenvroue so

Foto ter illustrasie. (Foto: Opendoors.org.za)

Vroue wat Jesus aangeneem het, en veral weduwees met kinders, loop dikwels die ergste deur onder vervolging.

Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, sê weduwees, wie se mans vir Christus gesterf het, het ekstra beskerming nodig omdat hulle ʼn maklike teiken vir vervolging is en alleen die mas moet opkom om vir hul kinders te sorg.

In ʼn land soos Nigerië is die lewe uiters moeilik vir Christene weens Islamitiese verdrukking, diktatoriale paranoia, georganiseerde korrupsie en ook misdaad. Hierdie Wes-Afrikaland is tans no. 12 op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingsranglys. Geopende Deure stel jaarliks die ranglys saam om die 50 lande te lys waar Christene die ergste vervolg word.

“Nie net moet weduwees hul hartseer oor die dood van hul mans verwerk nie, maar hulle word ook agtergelaat om alleen na hul kinders om te sien. Boonop word hulle deur hul plaaslike gemeenskappe en families verstoot wanneer hulle weier om hul geloof te versaak – wat hulle sonder ʼn heenkome laat en uiters kwesbaar maak,” sê hy.

Gouws het die getuienis van ʼn weduwee gedeel wat ernstige vervolging oor haar geloof in dié land ervaar het.

“Mary Andimi van Michika in Nigerië is een van talle weduwees wat sukkel om kop bo water te hou. Nadat rebelle van die ekstremistegroep Boko Haram haar dorpie aangeval het, het Mary se lewe drasties verander. Sy het op 55-jarige ouderdom ʼn weduwee en die enigste broodwinner vir haar groot gesin geword. Haar man, eerwaarde Lawan Andimi, is ontvoer en ná bykans drie weke van onderhandelinge om die lewe gebring omdat hy nie bereid was om sy geloof in Jesus prys te gee nie.”

Gouws sê die bevelvoerder van die groep het drie weke elke dag gebel en gedreig om Andimi te onthoof as Mary nie ʼn buitensporige losprys van 65 miljoen naira (ongeveer R3 miljoen) vir Andimi se vrylating betaal nie.

“Sy was radeloos oor waar sy op haar eie so ʼn groot bedrag geld in die hande moes kry. Sy het die kerkhoofkwartier vir hulp genader, maar ondanks hulle hulp kon sy slegs 25 miljoen naira (R1,08 miljoen) insamel.

“Die leier van Boko Haram het dit egter later duidelik gemaak dat dit nie eers sou help om die geld in te samel nie, want hulle sou Andimi steeds doodmaak as hy nie sy Christenskap prysgee vir Islam nie. Sy het dieselfde dag ’n oproep ontvang om te sê hulle het Andimi om die lewe gebring,” sê hy.

As ’n weduwee en enkelouer gaan Mary gebuk onder oorweldigende verantwoordelikhede. Haar nuwe rol as enigste broodwinner vir haar kinders verg onwrikbare moed, terwyl sy steeds haar eie verlies en die dood van haar man moet verwerk.

“Vyf van haar kinders is met tersiêre onderrig besig en twee is in die hoërskool. Daar is dus skoolgeld en ander uitgawes om te betaal. Die een ding waaraan sy egter vashou, is dat niks haar van die liefde van God kan of sal skei nie – nie eers die dood of swaarkry nie. Sy hou onwrikbaar aan haar geloof vas en besef dat sy in hierdie moeilike tyd na niemand behalwe die Here vir hulp kan draai nie.”

Volgens Gouws het plaaslike vennote van Geopende Deure het Mary en haar kinders besoek en van kos en geldelike ondersteuning voorsien. “Sy is geweldig dankbaar vir hierdie gebaar, wat haar weer opnuut aan God se getrouheid herinner het. Sy kan die Here nie genoeg dank en prys vir ons besoek, bemoediging en geskenke nie. Die kerk het haar ook bygestaan en gelowiges van oral bid vir haar. Dit gee haar nuwe moed om dapper voort te gaan in haar stryd om finansiële oorlewing.”

Hoe kan jy help?

Lesers kan help om meer weduwees soos Mary, wie se mans die hoogste prys vir Christus betaal het, te beskerm en te ondersteun. ’n Finansiële geskenk van slegs R340 sal help om een weduwee en haar kinders vir ’n maand lank te voorsien van kos en huisvesting. Jou geskenk sal die wêreld vir ’n vervolgde weduwee en haar gesin beteken. Dit sal hulle ook opnuut laat besef dat hulle nooit alleen is nie, maar dat hul geloofsfamilie reg oor die wêreld hulle ondersteun.

SMS “Maroela en jou naam” na 43 699 om vir so min as R340 ʼn verskil te maak in die lewens van ons broers en susters.

Lesers kan ook www.opendoors.org.za besoek en Geskenk 6 uit Geopende Deure se Geskenke van Hoop-katalogus kies om ʼn verskil te maak in die lewens van weduwees wie se mans vir Christus gesterf het.

  • Augustus is Vrouemaand in Suid-Afrika en die kollig val opnuut op vroueregte. In die Afrika-vasteland beïnvloed die vervolging van Christene die lewensomstandighede van vroue direk wat die here dien. Jan Gouws uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media hieroor gesels. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.