Luister: Herdenk Vervolgingsondag saam met Geopende Deure

juanita-badenhorst-13

(Foto: Juanita Badenhorst)

Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. – Johannes 15:5 (AFR53)

Hierdie woorde in Johannes 15 is die tema van Geopende Deure se herdenking van Vervolgingsondag – ʼn dag waarop ʼn mens opnuut besef dat nie alle Christene die voorreg het om ʼn Bybel te besit of hulle geloof vrylik in die openbaar te mag uitleef nie.

Die eerste Sondag ná Pinkster is wêreldwyd bekend as Vervolginsondag en hierdie dag val vanjaar op Sondag 4 Junie.

Geopende Deure Suider-Afrika, ʼn organisasie onder winsoogmerk wat 360 miljoen vervolgende Christene in meer as 65 lande bystaan is ʼn stem vir hierdie mense wat dikwels weens hulle geloof die hoogste prys moet betaal.

“Christene ervaar diskriminasie of word dikwels op die slegste manier mishandel en geteister – van tronkstraf tot gedwonge huwelike – alles in ʼn poging om hulle Christenskap te verwerp. Dit gebeur nie net op regeringsvlak nie, maar ook binne gemeenskappe en selfs in families,” verduidelik Elizabeth Botha, mediabeampte by Geopende Deure Suider-Afrika.

Botha sê dit is waarom die organisasie ʼn beroep op elke Christen doen om betrokke te raak by die herdenking van Vervolgingsondag.

“Ons kan amper nie oor vervolgde Christene praat sonder om te verwys na Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys wat elke jaar uitgereik word nie. Hier kyk ons na die top-50 lande waar Christene die ergste vervolg word.

“Nie net neem die vervolging van Christene wêreldwyd teen ʼn kommerwekkende tempo toe nie, maar geweld tenoor Christene in Afrika suid van die Sahara het nuwe vlakke bereik met al meer lande op die vasteland wat hoër posisies op die ranglys inneem.”

Botha wys daarop dat die woord “vrug” meer as 60 keer in die Nuwe Testament voorkom. Bogenoemde vers in Johannes help Christene om die gehalte van hulle vrugte te bepaal deur te kyk na dit waarin hulle gewortel is.

As volgelinge van Jesus word daar van Christene verwag om goeie vrugte te dra, maar daar is gelowiges wat vandag vervolg word vir hierdie goeie vrugte wat hulle vir Christus dra.

Christene hier in Suid-Afrika onthou en staan saam met hierdie gelowiges wat vervolg word en tog, te midde daarvan, gewortel in hul geloof in God bly.

Sluit by Geopende Deure aan op 4 Junie terwyl hierdie gelowiges gedenk word wat goeie vrugte van die Gees bly dra in die moeilikste van omstandighede.

“Ons wil mense aanmoedig om betrokke te raak by Vervolgingsondag wat ʼn tyd van inspirasie, gebed en viering is van die werke wat God in die vervolgde geloofsfamilie doen.

“Wees ʼn stem vir vervolgde Christene en steek jou hand op om as spreker oor die tema by jou kerk te praat. Jy kan ook een van Geopende Deure se vrywilligers nooi om die Sondag ʼn persoonlike aanbieding by jou kerk se erediens te doen. Alternatiewelik kan jy ook ʼn geskenk van hoop gee wat sal help met die dringendste behoeftes van vervolgde Christene.”

Besoek gerus www.opendoors.org.za om meer inligting oor Geopende Deure se herdenking van Vervolgingsondag te kry.

  • Luister boaan die berig na die volledige gesprek met Elizabeth Botha van Geopende Deure Suider-Afrika. Sy verduidelik waarom Vervolgingsondag belangrik is en hoe jy dit kan herdenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.