Gedagte vir die dag:  Luister hier!

Duif_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Lukas 12:4-12

Want die Heilige Gees sal julle in dieselfde uur leer wat julle moet sê. (Lukas 12:12)

Lukas voeg hier enkele van Jesus se uitsprake saam. Hy vertel wat Godskinders te doen staan wanneer hulle agterkom dat hulle hul lewe met aanhoudende vrees en knaende kommer versuur. Hy vertel wat Jesus sê: Luister hier! Moenie vir moordenaars bang wees nie; hulle kan niks aan jou siel doen nie.

Vrees Hom eerder, die God wat selfs die mossies onthou. Hy wat die hare op jou kop tel.

Kortweg: Hou tog op om jou oor dinge te bekommer waaroor God beheer het. En dit, weet jy mos, is álles in hierdie lewe.

Moet ook nie bang wees om voor ander mense oor Jesus te praat nie; vrees eerder die gevolge as jy dit nié doen nie.

Bowendien, ou kommerkous, moet jou tog nie aanhoudend verwyt as jy dalk nie ’n prater is nie, of as jy bang is jy kry nie iets behoorliks gesê wanneer iemand jou oor die Here voor stok kry nie. Op daardie oomblik sal die Gees jou die regte woorde voorsê. En: Jou mond maak saak. Wat daar uitkom, het gevolge. Weet egter dit: Jy is nie magteloos uitgelewer aan wat uit jou mond kom nie; jy het ’n sê oor wat jy sê. Praat dus versigtig. Luister mooi voordat jy daardie mond so gladweg oopmaak; die Gees fluister soms. En as die Gees wil briek aandraai aan jou haastige woorde, laat

Hy dit doen. Hy weet wat gesê moet word en wat nie. En wanneer, en wanneer nie.

Ek vra tog weer, asseblief, Here, dat U die bekommernisse wat my so verlam, sal doodmaak. Dat U die wag voor my mond sal beskerm. En wakker hou.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.