Luister: Organisasie steun vervolgde Christene in Indië

Indië se landsvlag. Argieffoto: Pixabay

Met die Impact India-veldtog wil Geopende Deure mense dringend bewus maak van die onstellende situasie in Indië en hulle aanspoor om by die lot van vervolgde Christene in die land betrokke te raak.

Christene in Indië kry vreeslik swaar op die oomblik en die vervolging van gelowiges het die afgelope jare skerp hier toegeneem.

Hindoe-ekstremiste glo dat alle Indiërs Hindoes moet wees, en dat die land ontslae moet raak van Christenskap en Islam. Hulle gebruik uitermatige geweld om dit te bewerkstellig, deur veral Christene vanuit ʼn Hindoe-agtergrond te teiken. Christene word daarvan beskuldig dat hulle ʼn “uitheemse geloof” volg en word geblameer vir teenspoed in hul gemeenskappe. Hierdie gelowiges word dikwels fisiek aangeval en soms vermoor, en is onder konstante druk van hul families en gemeenskappe om na Hindoeïsme terug te keer. Indien hulle nie toegee nie, kan hulle deur hul gemeenskappe geboikot word, wat ʼn vernietigende uitwerking het op hulle vermoë om ʼn inkomste te verdien. Baie gelowiges is geïsoleerd en ken nie enige ander Christene nie.

Die Covid-19-pandemie het ʼn nuwe wapen aan vervolgers gebied. Christene word doelbewus oorgesien wanneer amptelike Covid-19-voedsel en hulp versprei word. Dit maak baie Christene desperaat vir kos, veral omdat talle Christene baie arm is. Hulle het hul inkomstebronne verlede jaar verloor.

Wat doen Geopende Deure om Christene in Indië te help?

Geopende Deure se plaaslike vennote in Indië hou te midde van die Covid-19-krisis aan om die vervolgde kerk te dien deur noodsaaklike noodleniging aan diegene wat weens hul geloof regeringshulp geweier word. Terselfdertyd help hulle steeds gelowiges wat diskriminasie en aanvalle ervaar. Hulle werk kan riskant en uitputtend wees, maar hulle hou getrou aan om vervolgde gelowiges in die land by te staan.

Die organisasies se Rapid Response-spanne is dikwels eerste op die toneel ná gewelddadige aanvalle. Verder ondersteun hulle Christene in die land met vervolgingsoorlewingopleiding, Bybels, lewensbestaan- en gemeenskapsontwikkelingsprogramme, voorspraakondersteuning en regsopleiding.

Bid vir Indië:

  • Bid dat ons plaaslike vennote ʼn seën sal wees vir die vervolgde Christene wat hulle ontmoet, en dat God aan hulle wysheid sal skenk om hierdie gelowiges te dien.
  • Bid vir God se beskerming van ons plaaslike vennote wanneer hulle gevaarlike gebiede betree om Christene te ondersteun en te bemoedig.
  • Bid dat die Here vir hulle en hul gesinne geestelik, emosioneel, fisiek en verstandelik sal voorsien.
  • Prys God dat baie mense in Indië tot geloof kom deur wonderbaarlike genesings en die brawe getuienis van Indiese Christene. Bid dat dit sal voortgaan en dat baie meer mense Jesus sal leer ken.
  • Bid vir beskerming vir ons broers en susters, veral dié wat nuwe Christene is en dié wat in landelike gebiede woon, waar hulle baie geïsoleerd is. Bid dat God hulle families en gemeenskappe sal help om hul nuwe geloof te aanvaar.
  • Vra God om sy werk deur Geopende Deure se vennote voort te sit om praktiese ondersteuning en bemoediging aan dié te bring wat hulp die meeste nodig het. Bid vir wysheid en energie vir Geopende Deure se vennote, en vra God om hulle te beskerm terwyl hulle hierdie belangrike werk uitvoer, veral tydens die pandemie.

Besoek Geopende Deure se webwerf vir meer inligting oor hoe lesers die organisasie se veldtog in Indië kan ondersteun.

  • Maroela Media het vroeër vandeesmaand met Vicky Kente, woordvoerder van Geopende Deure Suider-Afrika, gesels oor die organisasie se veldtog om vervolgde Christene in Indië te ondersteun. Kente het die getuienis van Praveen en Shanti, ʼn Christen-egpaar in die land, gedeel. Luister na die volledige gesprek bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.