Luister: SA bevoorreg om Paasfees vry te vier

Foto: Pixabay

Paasfees is waarskynlik die grootste hoogtepunt op die Christelike kalender en dus ʼn besondere spesiale tyd vir elkeen wat Jesus volg.

“Ons in Suid-Afrika is in die bevoorregte posisie dat ons Paasnaweek met vrymoedigheid kan vier en vir Christelike byeenkomste by ons kerke kan saamtrek, maar ek dink nie ons besef altyd wat ʼn groot voorreg ons het om ons geloof so vrylik te kan beoefen nie,” sê Vicky Kente, woordvoerder van Geopende Deure Suider-Afrika. Dié organisasie lewer bystand aan vervolgde Christene wêreldwyd.

Volgens Kente het talle Christene in ander wêrelddele ongelukkig nie dieselfde voorreg nie. Dié Christene moet hul verhouding met Jesus stilhou uit vrees vir vervolging weens hul geloof. Indien hulle dit waag om ons Verlosser openlik te dien, kan hulle ʼn verskriklike prys betaal.

“Dié jaar oorvleuel Paasnaweek en Ramadan, die hoogtepunt op die Moslem-kalender, boonop. Die maand van Ramadan word as ʼn heilige tyd beskou waartydens almal in die gesin sekere Moslem-tradisies moet nakom en die druk in Moslem-lande vir Christene om aan die gebruike deel te neem of selfs na Islam terug te keer, is soveel hoër.”

Vicky vertel die verhaal van *Charity, ʼn Christen-vrou van Guyaku in noordelike Nigerië, wat daarvan kan getuig dat die storie van Paastyd lewens kan omdraai, en dat die ergste tragedie en swaarkry deur Jesus se liefde oorkom kan word. Sy staan te midde van dodelike vervolging steeds sterk in haar geloof.

“Boko Haram het die dorp waarin Charity woon een nag aangeval en die meeste geboue aan die brand gesteek. Charity, ʼn enkelma, en haar drie kinders het na die berge gevlug. Agter hulle het militante Christene vermoor en huise aan die brand gesteek. Twee van Charity se kinders het tydens die chaos verdwyn.

 “Charity en sommige ander dorpenaars het die volgende oggend na die dorp teruggekeer. Hulle het ʼn toneel van volslae verwoesting aangetref, met amper elke huis wat geplunder en afgebrand is. Hulle het alles verloor. Charity se twee kinders was steeds weg en sy was diep bekommerd omdat sy nie geweet het wat van hulle geword het nie.”

Die geweld teen Christene in Nigerië en die res van Afrika suid van die Sahara neem teen ʼn skrikwekkende tempo toe. In die noorde teiken Islamitiese ekstremistiese groepe soos Boko Haram kerke, dorpe en gemeenskapsleiers. In die suide voer Fulani-militante ʼn skrikbewind met terreur en grondbesettings.

Meer as 4 500 gelowiges is die afgelope jaar in brutale aanvalle dood, terwyl duisende ander ontvoer is en honderde kerke gesluit is.

Nigerië het vanjaar twee plekke opgeskuif tot in die sewende posisie op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys van die 50 lande met die ergste vervolging van Christene. Hierdie land is ook in die topposisie as die land met die gewelddadigste vervolging van Christene.

Kente vertel twee weke ná die aanval is Charity se gebede beantwoord en is haar twee kinders gevind waar hulle in die woud weggekruip het. Sy was verheug en het dadelik nuwe hoop vir die toekoms gehad.

“Charity en sommige van die ander mense het begin om die dorp geleidelik te herbou. Hulle het ʼn tydelike dak van verbrande sink opgerig waaronder die gemeente weer kon aanbid. Hulle wil nou teruggee en ook ander help wat deur vervolging geraak word.”

Danksy ondersteuners se skenkings en gebede kon Geopende Deure die gemeenskap bystaan met noodleniging, kos, traumasorg, dissipelskapopleiding en ondersteuning om die dorp te herbou.

“Ons plaaslike vennote in die gebied het gehelp om swaarkry in hoop te omskep vir ons geloofsfamilie en aan hulle te wys dat hulle ondanks vervolging nie alleen is nie.”

Kente hoop dat almal hierdie Paasfees daaraan herinner sal word dat ons lewe in oorvloed het omdat ons vir Jesus, die Lewe, ken. “Die groot wonder van Pase is nie net dat ons ná die dood opnuut sal lewe nie, maar dat ons deur die krag van Jesus se opstanding nóú reeds volkome nuut kan lewe en hierdie wêreld kan help vernuwe,” het sy bygevoeg.

Lesers se ondersteuning en gebede kan ʼn reuseverskil maak in die lewens van vervolgde Christene in Nigerië en reg oor Afrika suid van die Sahara wat gewelddadige vervolging weens hul geloof ervaar. Een van die belangrikste maniere waarop ʼn mens Christene vanuit ʼn Moslem-agtergrond gedurende die Paastyd en Ramadan kan ondersteun, is deur vir hulle te bid.

  • Maak vandag ʼn verskil maak in die lewens van vervolgde Christen deur ʼn gebedsvennoot van Geopende Deure te word. SMS net MAROELA en jou naam na 43699 om ʼn gebedsvennoot te word. Standaard SMS-tariewe geld.
  • Vicky Kente het met Maroela Media gesels oor Paasfees, die voorreg wat ons as Suid-Afrikaners het om dit vier en ʼn verhaal van hoop uit Nigerië gedeel. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Porseleintjie ·

Jesus Christus, die Naam bo elke naam. Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe en tog dien soveel mense in SA Hom nie. “Die tyd is naby dat elke knie voor Hom sal buig. Hallelujah!!

Lillian ·

Dit is ‘n voorreg, in ander lande word christene steeds vervolg en vermoor … Dankie Here!

Andries ·

Dit is opmerklik hoe volkome afwesig die vervolging van Bybelse gelowiges in die hoofstroom media is – so dankie Maroela.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.