Luister: So het ToekomsVenster begin

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Toe het ek die Here hoor vra: ‘Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?’ Ek het geantwoord: ‘Hier is ek! Stuur my!’ – Jesaja 6:8-9 (AFR83)

Jy ontvang daagliks hierdie dagstukkie as ToekomsVenster, maar miskien wonder jy waar het dit alles begin. Ek sal graag meer hieroor wil vertel en dalk selfs jou vrae antwoord.

Ek is tans ʼn afgetrede dominee in die NGK. Ek was en is steeds verbonde aan die Rant en Dal Prisma-gemeente in Krugersdorp, vir meer as 35 jaar al. Ten spyte van my afgetrede status was dit my ʼn voorreg om die afgelope jaar weer formeel betrokke te wees by die gemeente. Die nuwe dominee is beroep en begin op 1 Januarie 2024.

Ek kan nie anders as om vanuit die konteks van ʼn oortuiging dat die Here my roep en geroep het om met sekere dinge besig te wees, gesels nie. Ons elkeen se geloofsreis lyk anders en dit is onvanpas om voorskriftelik te wees oor ʼn dimensie van mense se reis saam met God wat vir ander ontoeganklik is.

Hierdie reis het begin as die “Jesus-projek”. Die misbruik van die Here se Naam het swaar op die hart van gelowiges gelê. Ons het ʼn projek begin waarin en -deur ons letterlik tienduisende briewe na Hollywood gestuur het ten einde rolspelers te vra om met die praktyk te stop. In die verband het ons ook na Hollywood gereis.

Musiek en sang was altyd integraal deel van waarmee ek besig was. In hierdie verband het ek vir baie jare deur Suid-Afrika gereis en gemeentes oor lof en aanbidding onderrig, maar ook self opgetree. Aanvanklik was ons bediening as Eietydse Musiekbediening bekend. Later het die naam na Nuwe Hart Stigting verander. Gedurende dié tyd het ons moraliteitsherstel in Suid-Afrika as oogmerk gehad. Bylae is in onder andere die Kerkbode asook die Metodiste Kerk se blad geplaas. Honderde bydraes het verskyn gedurende hierdie periode.

Gedurende 2014 het ons onder die oortuiging gekom dat die volgende vyf jaar, van 2015 tot 2020, van strategiese belang is vir Suid-Afrika en sy inwoners se toekoms. Ons het ervaar dat ons verskeie temas by wyse van Bybelstudie, gerig op individue en kleingroepe, moet ontwikkel. Verskeie temas het as dagboeke verskyn, waaronder temas soos dissipelskap, geestelike en emosionele heelheid asook praktiese Christenskap.

Skrywers is geïdentifiseer en uitgenooi om die manuskripte voor te berei. Die bediening, bekend as ToekomsVenster, het tot stand gekom en die voorbereiding, druk, verspreiding van die studiemateriaal is hanteer. Geld wat uit die verkope genereer is, is in die volgende projek belê.

ToekomsVenster-voorblad

Die ToekomsVenster stiltetyd-dagboek. (Foto verskaf)

Ander projekte het spontaan ontwikkel. Jongmense van die naburige woonbuurt is in diens geneem en met houtwerkvaardighede toegerus. Die vroue het naaldwerkvaardighede aangeleer. Die studente is maandeliks onderhou deur ʼn bedrag wat daarvoor geoormerk was.

Met die Covid-19-pandemie het die projek vir verstaanbare redes afgesluit. Sedertdien het ToekomsVenster twee parke vir minderbevoorregte kinders toegerus en vergoed ʼn heeltydse terreinopsigter vir sy dienste. Sondae word uitreike gehou en die kinders, 120 op ʼn keer, gevoed. Medewerkers help dat die werk in stand gehou word.

Sowat twee jaar gelede is die opsigter, sy vrou en seun op ʼn vakansie see toe gestuur. Vir mense wat nie eers die binnekant van die nabye winkelsentrum ken nie, was dit ʼn lewensveranderende ervaring.

ToekomsVenster verskaf hierdie daaglikse oordenking wat op verskeie gemeenskapsradiostasies uitgesaai word. Maroela Media is hierin ʼn wonderlike vennoot en akkommodeer die dagstukkies reeds verskeie jare. Kom luister weer hier na van die eerste ToekomsVenster-plasings op Maroela. Ons is ook betrokke by radioprogramme wat op Radio Kansel en Kaapse Kansel uitgesaai word.

ToekomsVenster is ʼn organisasie sonder winsbejag, wat afhanklik is van die gemeenskap om met sy werk voort te gaan. Ons gebed is dat lesers en luisteraars die integriteit en geloofwaardigheid van hierdie bediening sal sien en moontlik ook verder sal ondersteun.

Skakel ds. Jannie Pelser by 011 665 2516 vir enige navrae oor ToekomsVenster. Luister ook hier na al die vorige ToekomsVenster-podsendings op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

OW ·

Baie geluk met Toekoms Venster ds Jannie,en die goeie boodskappe wat ons weekliks inspireer op Maroela media.Ek dink elke leser kan iets daaruit haal en toepas in sy/haar lewe.Sterkte vir die toekoms.

Theuns ·

Dankie vir jul positiewe bydrae elke dag. Laat weet hoe het jul begin en befonds geword. Eks in Zululand en hier is groot noodles veral met wit boemelaars wat na see kom en hier vermoor word as hul nie “beskermde” slaapplek het.. tragedies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.