Luister: Verhaal van hoop te midde van vervolging in Indië

Die kerk veg om lewend te bly in Indië, en talle Christene vrees vir hul lewens weens hul geloof. (Foto: Geopende Deure)

Geopende Deure is al jare lank werksaam in Indië en die Impact India-veldtog is die afgelope drie jaar aan die gang om die kollig te laat val op die intense vervolging van Christene in hierdie land.

Die organisasie wil deur hierdie veldtog bewustheid, gebedsondersteuning en ander bystand vir Christene in Indië bevorder.

“Ek is bevrees die vervolging van Christene raak al hoe erger in Indië en het sedert 2014 skerp toegeneem. Die land is tans in die tiende posisie op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys, ʼn jaarlikse lys met die top 50 lande waar Christene die ergste vervolg word. Dit beteken dus dat Indië die tiende gevaarlikste land in die wêreld vir Christene is.

“Indië is bekend as die wêreld se grootste demokrasie, maar die vervolging van Christene skets ʼn donker prentjie wat presies die teenoorgestelde uitbeeld. Hindoe-ekstremiste, wat deur ʼn ideologie genaamd Hindutva gedryf word, doen hul bes om Christenskap en ander minderheidsgelowe in die land heeltemal uit te roei,” sê Elizabeth Botha, ʼn mediabeampte by Geopende Deure Suider-Afrika.

Aangesien Vrouemaand tans plaaslik gevier word, het Botha ʼn Christen-vrou se geloofsverhaal gedeel.

“Mehr is ʼn jong vrou in Indië wie se geloof sterk gebly het ondanks die vreeslike ervarings wat sy moes deurmaak.

“Sy het in ʼn Hindoe-gesin en -gemeenskap grootgeword. Toe ʼn oom haar eendag kerk toe nooi, het sy die evangelieboodskap van vrede en genesing gehoor en haar lewe vir Jesus gegee. Haar ma en susters het later dieselfde gedoen. Hulle het egter nie besef watter prys hulle vir hierdie besluit sou betaal nie.”

Mehr se ma en suster is eendag ná ʼn gebedsbyeenkoms deur ʼn skare mense aangeval. Mehr het die twee vroue te hulp gesnel, maar is self ook oorval. Haar vervolgers het haar geslaan en selfs met ʼn stuk lap probeer verwurg.

Hoewel ʼn ambulans gehelp het om die vroue hospitaal toe te vervoer, het die aanvallers die medici by die hospitaal omgekoop om Mehr behandeling te weier.

“Sy was oorval deur vrees en angstigheid, en het so mismoedig gevoel dat sy selfdood oorweeg het,” vertel Botha.

Terwyl sy in die hospitaal gelê het, is haar gesin verder mishandel en gedreig. Hulle het na die owerhede gegaan, maar niemand is ooit ondervra of in hegtenis geneem nie. Hierna het hulle die een ná die ander hul werk verloor.

“Mehr was aanvanklik verpletter deur die trauma en kon nie verstaan waarom alles gebeur het nie. Sy het egter God se teenwoordigheid aangevoel en begin besef dat Hy haar nie verlaat het nie. Sy getuig vandag dat sy versterk gevoel het deur die Woord van God wanneer haar suster of ma vir haar gebid het.”

Terwyl God besig was om Mehr geestelik te genees, het Geopende Deure deur plaaslike vennote na vore gekom om haar op ʼn praktiese wyse te help. Haar mediese rekeninge is betaal en sy is gehelp om na ʼn hospitaal te skuif waar Christene welkom is.

“Ná haar gesinslede hul werk en inkomste verloor het, het ons vennote ook kruideniersware aan hulle voorsien. Mehr en haar gesin word nou nog deur ons plaaslike kerkvennote ondersteun.”

Botha sê wanneer ʼn mens verby die wreedheid van die aanval op Mehr kyk, is haar verhaal ʼn storie van moedige, onwrikbare geloof. Sy is besig om van haar trauma en liggaamlike wonde te herstel en haar geloof is vandag buitengewoon sterk.

“Sy getuig van haar onbeskryflike vreugde in Christus en bid dat haar vervolgers Jesus ook sal leer ken. Sy glo dat die Here se plan vir haar lewe groot is en dat Hy haar vir sy glorie sal gebruik.”

Botha benadruk gelowiges soos Mehr weet danksy die bystand van Geopende Deure se ondersteuners dat hulle nie alleen is nie – en hul geloof bly onwrikbaar.

“Hoewel Indië se Christene daagliks deur gewelddadige aanvalle en vervolging bedreig word, stel hul wêreldwye geloofsfamilie se ondersteuning en gebede hulle in staat om sterk te staan in hul geloof. Die wêreldwye kerk se gebede en praktiese ondersteuning vul hulle met hoop.”

Ondersteun vervolgde gelowiges in Indië

Luisteraars kan gelowiges in Indië ondersteun deur Christene in hierdie land met ʼn geskenk te seën. Jou geskenk kan vandag help om vervolgde gelowiges soos Mehr te ondersteun en onwrikbaar in hul geloof te laat bly sodat hulle kan voortgaan om Jesus se lig in daardie donker land te laat skyn.

Besoek Opendoors.co.za of stuur ʼn SMS met “Maroela en jou naam” na 43699 om ʼn verskil in die lewe van vervolgde Christene in Indië te maak. Standaard-SMS-tariewe geld.

  • Maroela Media het met Elizabeth Botha, ʼn mediabeampte by Geopende Deure Suider-Afrika gesels. Sy het meer vertel oor die organisasie se Impact India-veldtog en ʼn getuienis van ʼn gelowige in Indië gegee. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.