Luister: Vervolgde Christene benodig gebed

Gevangene 42 is vir ʼn jaar in haglike toestande in ʼn Noord-Koreaanse tronk aangehou voordat sy gevonnis en na ʼn arbeidskamp oorgeplaas is (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Noord-Korea het vanjaar na die tweede plek op Geopende Deure Internasionaal se Wêreldwaarnemingslys gedaal, terwyl Afghanistan ná die Taliban se oorname nou die gevaarlikste plek in die wêreld is om ʼn Christen te wees.

Dié organisasie stel jaarliks ʼn lys saam van die 50 lande waar Christene die ergste weens hul geloof vervolg word.

Maroela Media het vroeër berig vir die eerste keer in 20 jaar was Noord-Korea nie in die topposisie nie, ondanks die feit dat vlakke van vervolging in dié land vanjaar rekordhoogtes bereik het.

Gelowiges wat in Noord-Korea geïdentifiseer word, kry summier die doodstraf of word in strafkampe gevange gehou. ʼn Geskatte 50 000 tot 70 000 Christene is tans in Noord-Koreaanse tronke, waar hulle in onmenslike omstandighede moet probeer oorleef.

Vicky Kente, woordvoerder van Geopende Deure Suider-Afrika, het Maroela Media vertel van *Bae, ʼn dapper geheime gelowige in Noord-Korea.

“Bae is na ʼn landelike dorpie in die berge van Noord-Korea verban omdat sy ʼn Christen is. Hier moet sy elke dag ʼn sekere werkskwota behaal met die pluk van gewasse om bykomende strawwe vry te spring.

“Hoewel die regering aan haar en die ander mense in haar dorp kos voorsien, wat maar ʼn waterige sop en miskien ʼn bietjie rys bevat, is dit slegs genoeg om hulle lewend te hou om te werk. Hulle is voortdurend honger en ervaar die hele dag lank knaende hongerpyne.”

Kente sê saans wanneer dit donker word, glip Bae uit na die woud om haar Bybel uit sy wegsteekplek onder die blare en grond te kry.

“Terwyl sy weg is, maak haar huismaats al die vensters met komberse toe en word ʼn dowwe kers aangesteek. Hulle wag dan geduldig vir haar om terug te keer en vir hulle uit die weggesteekte Bybel te begin lees. Dit is die werklikheid van ʼn dag in ʼn Noord-Koreaanse huiskerk.

“Bae is na hierdie dorpie gestuur nadat sy met ʼn Bybel betrap is. Nadat die Noord-Koreaanse owerhede besef het dat sy ʼn Christen is, was haar lewe soos sy dit tevore geken het vir ewig verby. Sy het ʼn lewenslange vonnis van swaarkry en hande-arbeid in die afgeleë berge gekry omdat sy die Here dien, en sy is afgegradeer tot die laagste klas van die samelewing. Hoewel sy harde plaaswerk doen, is dit meer soos ʼn tronk as soos ʼn plaas. Sy word streng dopgehou om seker te maak dat sy nie ontsnap nie.”

Foto verskaf deur Geopende Deure

Kente sê Bae glo God span haar in as sy dienaar en sy voel haar hemelse Vader, aan wie sy haar lewe wy, se teenwoordigheid elke dag aan.

“Sy het wel lank gelede daarin geslaag om te ontsnap en oor die grens na China te vlug, waar Geopende Deure se vennote haar in ʼn skuilhuis versorg het. Hier het sy ander Christene ontmoet saam met wie sy lofprysing kon doen en kos, medisyne en ʼn nuwe Bybel ontvang.

“Sy kon permanent by die skuilhuis bly, maar het verkies om met die voedsel, medisyne en Bybel na Noord-Korea terug te keer om ondanks die haglike omstandighede ʼn lig vir Christus in Noord-Korea te wees.”

Geopende Deure versterk die Noord-Koreaanse Kerk deur hulle geheime netwerke in China.

“Ons verskaf deur ons vennote skuiling, opleiding en materiaal aan Noord-Koreaanse gelowiges in China. Sommige verkies om in China te bly nadat hulle gevlug het, maar ander neem die dapper besluit om terug te keer na Noord-Korea om hul broers en susters in geloof by te staan,” verduidelik Kente.

Noord-Korea hou vanjaar vir die eerste keer in 20 jaar nie die berugte titel vir die land waar Christene die ergste vir hul geloof vervolg word. Die beteken egter nie dat Christene hier nou minder vervolging ervaar nie (Foto: Verskaf)

Sy benadruk dat vervolgde gelowiges die langtermynondersteuning en gebede van hul geloofsfamilie nodig het om sterk te kan staan vir Jesus en te besef dat hulle nie alleen is nie – selfs in plekke soos Noord-Korea.

“So ek wil vandag vra, bid saam met ons vir die geheime gelowiges in lande soos Noord-Korea en Afghanistan, wat alles op die spel plaas om Jesus te volg te midde van uiterste vervolging. Bid dat God hulle veilig sal hou, in hul behoeftes sal voorsien en hulle as sy lig in die donkerte sal gebruik. Vra die Here ook om te help dat Geopende Deure in 2022 nog meer geheime gelowiges deur ons skuilhuise en ons netwerke in China sal bereik, en dat uiters noodsaaklike voedselhulp by honger gelowiges sal uitkom.”

Om dié rede het Geopende Deure ʼn Wêreldwaarnemingslys-gebedskaart saamgestel wat luisteraars gratis by www.opendoors.org.za  kan aflaai. Die gebedskaart wys die top-50 lande vir 2022 en gee ook meer inligting en spesifieke gebedspunte.

“Só kan ons ons geloofsfamilie in gebed ondersteun en weet dat hulle nooit alleen is nie.”

  • Vicky Kente, woordvoerder van Geopende Deure Suider-Afrika, het met Maroela Media gesels oor die organisasie se jongste Wêreldwaarnemingslys en ʼn storie van die dapper Bae wat steeds haar geloof beoefen te midde van vervolging in Noord-Korea.

*Bae is ʼn skuilnaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.