Luister: Vervolgde Christene se ervarings is rigtingwysers

sirie

(Foto: Alexas_Fotos/Pixabay)

Vervolgde Christene ervaar dikwels swaarkry en ontberings wat so erg is dat ʼn mens jouself nie kan indink hoe verskriklik dit moet wees om in sulke omstandighede te leef nie.

“Die keuse wat hulle gemaak het om Jesus te volg, lei tot diskriminasie, verwerping deur hul families en gemeenskappe, die weiering van noodleniging tydens die Covid-19-inperkings, tronkstraf en in sommige gevalle selfs die dood. Tog hou hul onwrikbare geloof, asook die wete dat hul broers en susters reg oor die wêreld hulle ondersteun, hulle staande,” sê Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika.

Gouws meen ons kan talle lesse uit die vervolgde kerk se ervarings en swaarkry leer. “Dit kan ons help om ons verhouding met die Here te versterk. Alhoewel ons nie in hierdie Christene skoene is nie, kan dit vir ons as rigtingwysers op ons eie geloofspad dien en vir ons wys hoe ons as Jesus se kinders behoort te leef.”

Geopende Deure en sy vennote het deur die jare eerstehands ervaar dat daar talle lesse in die vervolgde kerk se lewensgevaarlike ervarings opgesluit is.

Volgens Gouws is Sirië een van die lande waar Christene die ergste vervolg word.

“ʼn Burgeroorlog woed al die afgelope tien jaar in hierdie land. Ons het onlangs vir ʼn groot aantal Christene van verskillende denominasies in verskillende dele van Sirië gevra wat die lesse is wat hulle gedurende die tien jaar van oorlog geleer het.

“Talle mense het getuig dat een van die belangrikste lesse wat hulle geleer het, is om in alle omstandighede op God te vertrou. Hulle het ervaar dat God altyd in beheer is en goed is vir Sy kinders – ondanks pyn, ernstige wreedheid en bose planne. Hulle het geleer om nie op hul eie vermoëns te vertrou nie, maar om op God te steun en Hom ondanks moeilike tye te prys.

“Siriërs het getuig dat die Here aan hulle deursettingsvermoë, geduld, krag en nederigheid gee. Daarom hou hulle hul oë op Jesus en nie op aardse dinge nie, terwyl hulle in gebed volhard omdat hulle besef dat Sy teenwoordigheid al is wat hulle lewend hou.”

Nog ʼn les wat talle mense in Sirië geleer het, sê Gouws, is om die “klein dingetjies” te waardeer.

“Hulle het ervaar dat die lewe nie oor materiële dinge gaan nie, maar goed is wanneer jy vreugde put uit klein dingetjies soos samesyn met familie en vriende, ʼn ekstra uur se elektrisiteit of ʼn wandeling in die buitelug sonder gevaar. Die oorlog het hulle geleer om hul seëninge te waardeer en met vreugde te leef.”

Gouws sê die oorlog het ook talle Siriese Christene se oë oopgemaak vir ander se behoeftes en swaarkry, en hulle laat besef hulle moet vir hul medemens omgee deur onbaatsugtigheid, goeie dade, hulp aan siekes en armes.

“Ons geloofsfamilie besef dat hulle nie selfsugtig moet wees en net aan hulself moet dink nie, maar moet help waar dit ook al nodig is.”

Enigiemand wat graag betrokke wil raak by Geopende Deure se werksaamhede, deur saam te bid, finansieel by te dra, saam met die organisasie te reis of hulle wil nooi na hul kerk vir ʼn praatjie, kan ʼn SMS stuur met die woord “MAROELA” en jou naam na 43 699. Standaard SMS-tariewe geld.

  • Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, het met Maroela Media gesels oor die lesse uit die vervolgde kerk uit lande soos Sirië, Egipte, die Arabiese Skiereiland, Indië en Irak. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.