Gedagte vir die dag: Lyding teenoor heerlikheid

Berg_wolke_landskap_ReintDykema.jp

Foto: Reint Dykema

Lees: Romeine 8:13-18

Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. (Romeine 8:17-18)

Tydens ons aardse swaarkry mag ons aan die belofte in Romeine 8:18 vashou: Geen swaarkry wat ons hier op aarde moet verduur, kan opweeg teen die heerlikheid wat God vir sy kinders in die toekoms gereedmaak nie. God laat immers álle dinge ten goede meewerk vir sy kinders, selfs hulle lyding. Paulus het hier die feit onwrikbaar geglo. En juis daarom slaag hy daarin om tevrede te bly ten spyte van sy omstandighede.

Wanneer jy aan God behoort, weet jy vir seker dat hierdie toekomstige hemelse heerlikheid ook eendag jou erfdeel gaan wees. Aardse lyding kan jou nooit van God se liefde skei nie; jy kan ten spyte van swaarkry meer as ’n oorwinnaar in Hom wees. Glo jy al dat alle dinge in jou lewe – ook dié wat jy graag anders sou wou hê – uiteindelik deur God gebruik sal word tot jou geestelike beswil? Dan mag jy die belofte in vandag se kernvers jou eie maak en in swaarkrytye daaraan vashou.

Here God, dankie vir die belofte dat my swaarkry van die oomblik eendag vir my op u hemelse heerlikheid sal uitloop. Bevestig net weer vir my dat vandag se lyding nooit sal kan opweeg teen die vreugde wat U in die hemel vir my gereedmaak nie. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.