Gedagte vir die dag: Maak die storm stil

see_vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewens die deurslag gee; want as lede van een liggaam is julle tot vrede geroep. En wees dankbaar. (Kolossense 3:15)

Daar is een ding waarna almal op aarde soek, en dit is vrede. Die Here Jesus Christus het ons gewaarsku dat ons sal swaarkry, maar dat ons in Hom rus en vrede sal kan vind (Johannes 16:33).

Hierdie vrede waarna ons soek, kan nêrens anders gevind word as in die vrede wat God ons gee nie. Ons kan hierdie vrede nie in ons besigheid, geld, roem, gesin, die regering of selfs kalmeermiddels vind nie. Vrede kom slegs van God, want sy Naam is vrede.

Wanneer Jesus by huise gaan besoek aflê het, het Hy altyd die inwoners gegroet met die woord “Shalom”, die Hebreeuse woord vir “vrede”. Die dissipels, wat saam met Jesus in die skuit was op die See van Galilea, was verstom toe die Here die storm laat bedaar het.

Wie kon hierdie Man wees dat selfs die natuur Hom gehoorsaam?

Vrede word in jou hart gevind en nie in jou omstandighede nie. Die Here het nie gesê geseënd is die vredeliefhebbers nie, maar die vredemakers. Dis soms nodig dat jy jou man moet staan om vrede te kan hê. Dit kan dalk ongelukkigheid veroorsaak, maar ons moet opstaan vir geregtigheid.

John F Kennedy het gesê: “Die blote afwesigheid van oorlog is nie vrede nie.” Ons moet daardie soort Christene wees wat eerder die storm laat bedaar as die vuur aanblaas.

Vrede kom van ’n skoon gewete, dit kom deur te doen wat reg is, deur sonde sonde te noem, deur die moed te hê om jou geliefdes op die pad van regverdigheid te lei. Matteus 6:33 sê: “Maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg.”

Mag God jou seën terwyl jy op Jesus fokus en tyd saam met die Prins van Vrede deurbring.

Dierbare Here, vrede is iets wat ’n mens maklik ontwyk in hierdie wêreld waar daar oral soveel chaos heers. Benadruk vir my die feit dat vrede nie in my omstandighede gevind kan word nie, maar in U. Dankie dat U my hart met vrede vul. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries ·

Om elke dag die lewenspad deur die geloof saam met die Here Jesus te stap bring vrede in mens se hart , die vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Loretta ·

Dankie vir die boodskap dis wat ons elke dag nodig het, Prys die Here!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.