Gedagte vir die dag: Maak jouself toe!

 boekevat_bosveld_sonsopkoms_ReintDykema_vra-eers-toestemming.jpg

Foto: Reint Dykema

Die nag is byna verby, die dag is so te sê hier. Kom ons trek daardie vuil sondeklere uit wat in die donker tuishoort, en ons trek die wapenrusting aan wat pas by ’n lewe in die lig. (Romeine 13:12)

Party dae begin die oggend nog voordat my poging tot ’n gesiggie-inkleur klaar is. En daarna sneeubal die eerste op roep van ’n kliënt in daaropvolgende versoeke en take wat nie kan wag tot môre nie. Dan gebeur dit keer op keer dat ek myself te pletter loop teen my eie beterwete, struikel oor my ongeduld, mense onsensitief hanteer en sommer net nie goed voel nie.

Kyk ek terug, dan weet ek dat die oorsprong van my droogmaak-dag die feit is dat ek nie eers by my Vader gaan sit het nie. Dat ek nie my dag, my gees, my wil in sy hande geplaas het nie. Hoe hartseer dat ons dit soms doen, nè?

Kom ons neem ons weer voor om vroegoggend stilwees-en hoor-gesprekke met ons Vader te hê. Dis tog immers daar waar ons hemelse vrede sal ervaar ten spyte van ’n onstuimige wêreld, vrede kan indrink wat ons na liggaam en gees sal vernuwe en ’n diepe vreugde sal beleef.

“Geestelike oorwinning is slegs deel van mense wat vir die stryd gepantser is,” het Francis de Sales gesê. Moenie vandag – enige dag – ongepantser begin nie. Dit maak jou onnodig weerloos en broos.

Vader, vergewe my my soms sonder-U-hardloop. Maak my toe met u grootheid, asseblief, Vader.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.