Gedagte vir die dag: Maak ’n verskil

Liefde-vir-God

Argieffoto

Lees: 2 Korintiërs 1:3-11

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die eer toe. As ons Vader oorstroom Hy ons met sy goedheid. As ons God troos Hy ons. Hy staan by ons en help ons in al ons krisisse. Daarom kan ons ander mense help en troos wanneer hulle swaarkry. Ons kan presies dieselfde troos met hulle deel as wat God met ons gedeel het. (2 Kor. 1:3-4, Die Boodskap )

God vra van sy kinders om ’n positiewe verskil in die wêreld te maak. Hy wil hê dat ons na ander mense sal uitreik, hulle sal help en bystaan wanneer hulle in krisisse verkeer, net soos Hy óns help en bystaan wanneer ons swaarkry. God gebruik soms juis ons moeilike tye om ons voor te berei om slaggereed te wees om ánder te help wat later dalk in dieselfde bootjie kan wees. So kan ’n weduwee ander vroue troos wat hul mans verloor het, iemand wat lank siek was, kan siekes bystaan, mense wat ’n kind verloor het, kan ouers help wat kinders aan die dood moes afstaan. Dit is dus baie maal ons krisisse wat ons toerus om waarlik ’n positiewe verskil in die lewens van ander te maak.

En ons doen dit omdat ons nie anders kan nie. “Die liefde van Christus dring ons,” getuig Paulus in 2 Korintiërs 5:14. In Die Boodskap staan daar: “Ek weet dat Christus se liefde ons almal aanvuur.” Met hierdie dringende liefde in jou hart sal jy nie anders kán as om na ander mense uit te reik en hulle omstandighede te verbeter nie. En so word die wêreld vir almal van ons ’n beter plek.

Vader, ek loof U dat U my altyd help in krisistye. Wys my hoe ek ’n verskil kan maak deur ander by te staan. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.