As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ’n grief teen jou koester, los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer. (Matteus 5:23-24)
Ongeag hoe goed ons bedoelings is, ons laat mekaar maar in die steek. Ons vergeet ons eie aandadigheid, verbreek ons beloftes en maak seer met ons woorde. Ons besige lewens weerhou ons daarvan om in ander se behoeftes te voorsien. Ons gaan maar net voort, te hardkoppig of ongeërg om iets daaraan te probeer doen.
Die Here daag jou uit om reg te maak wanneer jy verbrou het. Voor jy Hom kan aanbid, moet jy die vrede in jou verhoudings herstel. Wees nederig genoeg om jou sonde te bely. Vra om verskoning vir jou krenkende woorde. Probeer die slegte dinge wat jy gedoen het sover moontlik regmaak. Kom dan met vrymoedigheid na die Here toe met ’n skoon gewete in die wete dat jy alles in jou vermoë gedoen het om versoening te bewerkstellig.
Bid vandag vir vrede met almal. Vra vir krag om gehoorsaam te wees en vir genade en vergifnis om die seer uit die verlede te herstel. Wees bly oor die eenheid wat daar in God te vinde is.
Here, wys vir ons die pad na vrede en versoening. Gee vir ons u genade en help ons om reg te maak waar ons ander te na gekom het. Amen.