Gedagte vir die dag: “Maak soos ek …”

Son_water_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen … (Filipense 4:9)

Paulus was ’n buitengewone instrument in die Here se hand. Hy het ’n radikale bekering ondergaan, en het toe net so radikaal vir die Here geleef. Hy was seker van sy oortuigings en hy het dit met groot passie verkondig en met selfvertroue uitgeleef.

Hy skryf selfs aan ander gelowiges dat hulle hom as voorbeeld moet gebruik. Aan die gemeente in Filippi skryf hy só: “En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen …” (Fil 4:9). Met ander woorde: Kyk hoe leef ek; leef julle ook só!

Dan noem hy ’n klompie voorbeelde: “Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly” (Fil 4:12 – 1933/1953-vertaling).

Hy weet hoe dit voel om elke sent om te draai sodat daar ten minste ’n brood en ’n blikkie boontjies op die tafel kan wees. Hy weet ook hoe dit voel om by die spoggerigste restaurant te gaan eet en dit nie eens aan sy sak te voel nie.

Hy ken die verskillende seisoene en die persepsies wat saam met finansiële verskuiwings kom. En juis omdat hy armoede én rykdom, hongerte én versadiging beleef het, wys hy die Filippense daarop hoe ’n gelowige se gesindheid deurentyd moet lyk: “(E)k het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is” (Fil 4:11 – 1933/1953-vertaling).

Die woordjie “geleer” is hier veelseggend: Paulus het waarskynlik nie uit die staanspoor die kuns van vergenoegdheid onder die knie gehad nie; hy moes dit aanleer.

Hy kon dit by die beste Leermeester doen, die Een wat hom die vermoë gegee het om “in alle omstandighede” dankbaar te wees.

Paulus het die sleutel tot ’n dankbare lewe verwoord in sekerlik een van die kragtigste kort verse in al sy briewe. Nadat hy uitgewei het oor hoe hy geleer het om vergenoeg te wees, sluit hy só af: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Fil 4:13).

Jesus Christus, dankie dat U my die krag gee om dankbaar te wees ten spyte van my omstandighede.

Bron:
100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Carol Badenhorst ·

Ek kan nie wag vir die volgende dag om die gedagte vir die dag te lees. Dis so opbouend en pragtig uiteengesit. Baie dankie. Geniet Maroelamedia terdee.

Von ·

Here dankie vir U Woord…hier is alles wat ons nodig het…dankie vir elke genade gawe…aan U al die lof en die eer…Amen

David Cromhout ·

Wil graag as lid meer uitvind van voordele van GPF Woon te Kranspoort en benodig Groen plakker en radio Kranspoort is 42 kiilometer van Middelburg en val ond Steve Tswete munsipaliteit

Gerrie ·

Wat ontvang is in geloof as ‘n openbaring van God, van Paulus se preke en hulle wat van hom geleer en wat hulle by hom gehoor het terwyl hy tussen hulle gewoon het, neem hierdie as ‘n reël vir jul geloof en leefwyse. Van God wat die voorbeeld is van vrede, ‘n liefde vir vrede het en die onderhouer van vrede is. Met die vrede wat Hy tussen hemel en aarde gebring het deur die missie en opoffering van Sy Seun, sal dit vir ewig by jou wees terwyl jy glo en en handel soos hier voorgeskryf.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.