Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik. (Luk 16:10)
’n Prediker het jare gelede gesê: “God is not interested in your comfort, He is interested in your character.” Dit het my sedertdien bygebly. Soms is ons soeke na God hoofsaaklik ervaring-gedrewe. Ons meet ons geestelike groei en diepte aan ons ervarings van die geesteswêreld en geestelike dinge. God doen dit nie.
Gehoorsaamheid aan Jesus bring ’n goddelike karakter voort wat onmiskenbaar is op enige plek ter wêreld. Ons geestelikheid en diepte word gemeet aan die teenwoordigheid van Christus se karakter in ons lewens. Hoe geesteliker en hoe meer volwasse ons is, hoe meer word ons soos Jesus. Dinge soos betroubaarheid en eerlikheid kom diep uit die hart en weerspieël waarlik die waarheid van God. Dis nie die “groot dinge” wat grootsheid bepaal nie, maar hoe getrou ons in die “klein dinge” is.
Weerstaan die wêreld se definisie van grootsheid. Dawid het nie koning geword omdat hy die slimste en sterkste was nie, maar omdat hy die getrouste was. Hy was “maar net” ’n skaapwagter.