Gedagte vir die dag: Makliker oor die dwarslat

hand_veld_son_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Die offisier antwoord Hom: “Here, ek is nie goed genoeg dat U onder my dak inkom nie. Spreek maar net die woord, en my slaaf sal gesond word.” (Matteus 8:8)

Gesindheid is een van daardie fassinerende onderwerpe waaroor al honderde hoofstukke oor baie jare geskryf is – nie net in sielkundeboeke nie, maar ook in vele motiveringsboeke wat jaarliks wêreldwyd gepubliseer word.

Dit bly ’n wonder hoeveel die mens kan vermag wanneer hy ’n taak met ’n positiewe gesindheid aanpak. Dit is asof die dwarslat met sentimeters verlaag word, wat jou in staat stel om veel makliker daaroor te kom. Met die regte gesindheid kan ’n student ’n veeleisende kursus binne die voorgeskrewe jare voltooi, eerder as om dit van die begin af as nie-haalbaar te sien. Die regte gesindheid tot oefening kan ’n gemiddelde atleet ’n kerfie of twee beter laat presteer as wanneer hy of sy net sou aanvaar dat hy of sy net nie atleties genoeg is nie.

In die Bybel is vele voorbeelde van mense wat moeilike take suksesvol voltooi het omdat hulle die regte gesindheid gehad het: Josef, Josua, Dawid. Selfs die Romeinse bevelvoerder wat positief was dat Jesus sy slaaf met ’n enkele woord kon gesond maak (wat Jesus dan ook gedoen het). Hulle het almal omstandighede oorwin wat nie die positiewe resultate sou opgelewer het as hulle ’n negatiewe gesindheid gehad het nie.

Met die regte gesindheid kan berge versit word. Glo dat die Here dramaties in jou lewe of situasie kan ingryp en jou kan bemagtig om met ’n nuwe ingesteldheid jou situasie te verbeter.

Bron: God is hier! deur Johann van Zyl
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theuns ·

Dis so waar. Enige struikelblok kan oorkom word met positiewe benadering. Ons sal veilig wees in hierdie land van kriminele met God aan ons kant..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.