Maria en Marta – gegriefdheid kan vriendskap belemmer

Op hulle reis het Jesus in ‘n dorp gekom waar ‘n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. Sy het ‘n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!” Lukas 10:38-40

Die verhaal van Maria en Marta is ‘n bekende een; die twee vroue wat tydens Jesus se besoek so verskillend gereageer het. Beide susters was vriende met Jesus. Hy het by hulle aan huis gekom. Hulle het saam geëet en saam gesels.

Op die spesifieke dag het Marta haar selfbeheersing verloor. Die Bybel sê Marta het Jesus as gas ontvang, so sy was heel moontlik die ouer suster. Sy was verantwoordelik om seker te maak dat alles gereeds was vir jesus se besoek en in haar gemeenskap sou sy haar dood geskaam het as alles nie na wense was nie. Lukas vertel ons dat sy baie bedrywig was om alles klaar te kry. ‘n Mens kry die gevoel dat sy ook veel eerder na Jesus sou wou luister, maar iemand moes seker maak dat almal kos kry. Haar reputasie as gasvrou was op die spel. Ek kan my voorstel dat Marta al hoe meer gegrief gevoel het daar waar sy in die warm kombuis besig is. Uiteindelik kon sy dit nie meer uitstaan nie. Luister hoe sy haar klagte bewoord: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”

Instede om voortdurend te probeer om deur ons diens aan ander Jesus tevrede te stel en Hom te dien, is dit maklik om onsself eerste te wil stel en voortdurend te soek vir eerbetoon en erkenning. Kry ons dit nie, is dit nie lank nie of ons is ontevrede met God. Ons begin vra of Hy regtig vir ons omgee en hoekom help Hy ons dan nie op die manier wat ons wil hê nie. Dit belemmer dikwels ons vriendskap met medegelowiges, maar ook met Jesus self.

Gebed: Here Jesus, vergewe my al die kere wat ek U wil dien en dan gaan dit uiteindelik meer oor myself. Ek dank U dat ten spyte van my selfsug, U nogtans my Vriend bly wat my vir altyd sal liefhê. Amen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.