Gedagte vir die dag: Maria se verwondering

vrou_sonsondergang_dink_see_staar.jpg

Foto: stringsofsoulfulness.com

Lees: Lukas 1:26-38

Toe die engel by haar kom sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. (Lukas 1:28-29)

As daar nou een Bybelkarakter is wie se hele lewe gevul was met verwondering, is dit Maria, die moeder van Jesus. Die gebeurtenisse rondom Jesus se geboorte was ’n opeenvolging van verwondering. Dit begin met die engelaankondiging dat sý, ’n jong ongekunstelde maagd uit die klein dorpie Betlehem, gekies is om die moeder van God se Seun te wees. Hierna volg die woorde van Elisabet haar niggie vir wie sy kort ná die engelboodskap gaan kuier het. Wanneer Elisabet haar sien aankom, roep sy uit; “Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom?” (Lukas 1:43).

Net ná Jesus se geboorte besoek ’n groepie skaapwagters vir Maria, Josef en die baba in die stal en deel húlle engelboodskap: “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” (Lukas 2:11). Nog ’n besoek volg: Belangrike sterrekykers uit ’n ver land kom kniel voor haar baba en bied vir Hom geskenke aan wat geskik is vir ’n koning.

Wanneer Maria en Josef vir Jesus na die tempel in Jerusalem bring om besny te word, neem die bejaarde Simeon Hom in sy arms en prys die Here dat sy oë sy verlossing kon aanskou.

Lukas vertel: “Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink” (Lukas 2:19).

Here Jesus, dankie dat ek my steeds kan verwonder oor die gebeure rondom u geboorte en die feit dat U gewillig was om as ’n gewone mensebaba na die wêreld te kom, sodat ek God se kind kon word. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.