Gedagte vir die dag: Masker en voorskoot

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: Crosswalk.com

As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde. (Spreuke 31:26)

Gedurende die Covid-19-grendeltyd is ons soms oorval deur ’n gevoel van ingehoktheid. Ons het vasgekeer gevoel. Benoud. Uitsigloos. Ons lewe se voorspelbare ritmiese patroon is skielik versteur en ons bekende vertroude leefpatrone vernietig. Ons is van alle kante begrens en voorgesê wat ons mag en nié mag doen nie. Ons eie besluitneming is opgeskort. Binne hierdie beperkings moes ons leer om sinvol te leef en nuwe daaglikse leefpatrone te skep wat die lewe vir ons betekenisvol kon maak.

In Bybelse tye was vroue “ingeperktes”. Hulle was begrens deur velerlei voorskrifte wat deur die gemeenskap op hul afgedwing is. In baie opsigte was hulle nie veel meer as pionne nie. Hulle was “gebruiksartikels”. Daar is oor hul lot besluit sonder dat hulle enige inspraak gehad het. Vroue is aan hul mans gegee as deel van ruiltransaksies, soos Saul se dogter Merab, wat as Dawid se vrou geoormerk word. Sy was egter reeds aan iemand anders belowe. Daarom is Mikal aan Dawid gegee.

Tog is daar oral in die Bybel verhale van vroue met dryfkrag en visie wat hul nie willoos by hul omstandighede neergelê het nie. Sterk vroue soos Debora, Ester, Rut en Abigajil wat opgestaan het vir die beginsels waarin hul geglo het – en ’n daadwerklike verskil gemaak het.

Ons omstandighede is nie ’n verskoning om willoos en daadloos deur die lewe te gaan nie. Elkeen van ons het ’n roeping, al is dit bloot om vir ander te bid daar waar ons in ons klein ruimte ingeperk is.

Here, ek wil die roeping wat U vir my het, uitleef. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here U ken ons tenvolle, U maak ruimte vir ons in U Raadsplan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.