Gedagte vir die dag: Materialisme

Boekevat Foto - Sonsopkoms oor dam

Foto: Christo Brits

Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. (Matt 6:19-20)

Materialisme is ’n buitengewone verknogtheid aan aardse goed. Dis nie net gewoon die waardering en benutting van die materiële seëninge wat die Here vir jou gee nie, maar eerder die verafgoding van die seëninge. Dis wanneer jy die klem van die Gewer na die gawe verplaas. Dan word die seën vir jou ’n vloek. En dit gebeur makliker en gouer as wat jy dink. Wanneer materie ’n obsessie word, kry dit daardie gewraakte “isme” agteraan, daardie duiwelstertjie.

Die tragiese verhaal van die ryk jongman illustreer dit baie treffend (Matt 19:16-22). ’n Goeie man wat met goeie bedoelinge na Jesus kom. Sy godsdienstige CV is uitmuntend. Hy soek nog meer, hy soek na vervulling, na die hemel. En wanneer Jesus vir hom sê wat nodig is, dat hy sy materiële bates in kontant moet omsit en die geld vir die armes gee, stap hy bedroef weg. Sy goed was vir hom darem net te dierbaar. En wanneer ons na dié storie luister, raak ons onrustig. Sê nou Jesus vra dit van my? Sal ek ook dalk twee keer dink voor ek my aardse skatte vir skatte in die hemel sal verruil?

Die feit is dat ons net te maklik aan aardse goed verknog raak. Ons lewens word te maklik deur mot-en-roes-dinge oorheers. En al sal jy nie vandag van al jou goed ontslae raak nie, raak dan net van jou beheptheid met die goed ontslae. En dink goed na oor wat dit vir jou persoonlik sal beteken om in hemelse skatte te belê.

Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.