Gedagte vir die dag: Matteus, wat ’n tweede kans gekry het

voetpad2_namakwaland_abrits_stiltetyd.jpeg

Foto: Annelize Brits

Jesus het Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: “Volg My!”. (Matteus 9:9)

Dat Jesus na ’n tollenaar, ’n gehate volksverraaier, gestap het – dit kan tog nie! Dink hoe Petrus en Jakobus en Johannes grootoë gemaak het: Hy, een van ons? Nee! Maar Jesus het presies geweet wat Hy wou doen. Hy wou vir Matteus – en vir elkeen van ons – ’n driedubbele boodskap bring.

Daar is vir jou genade! Die Jode het geen tyd vir die tollenaars gehad nie. Hulle was uit die sinagoges geban. Toe Jesus by sy tafeltjie opdaag, moes Matteus groot geskrik het. Die Messias! Nou gaan God se oordeel hom tref! Maar wat hoor hy? Daar is vir jou genade! Al is jou sonde rooi soos skarlaken, jy sal wit word soos wol.

Sal jy My volg? Kan dit wees? Het Jesus hom nodig? Matteus het opgestaan en Hom gevolg. Net daar het sy lewe begin sin maak. Alles in sy lewe, van sy geboortedag af, het op dié dag uitgeloop dat hy Jesus kon ontmoet en volg. Soos met ons. Wat is die hoogste doel van ons lewe, die sin van ons bestaan? Om, al is ek hoe onwaardig en sondig, soos Matteus op te staan en Jesus te volg.

Ek het jou nodig. “Wat het ek om aan te bied?” moes Matteus gedink het. Hy was nie ’n visserman of ’n skrynwerker nie, maar hy kon skryf. Sy lewe het bestaan uit notas maak, om feite te boekstaaf. Toe Matteus opgestaan het, het hy alles agtergelaat – behalwe sy pen en papier. Hy het begin neerskryf wat Jesus alles gedoen en gesê het. Uiteindelik het dit die Evangelie van Matteus geword. Hoe oneindig armer sou die dissipelkring, ons almal, gewees het, as Matteus dié dag “Nee” gesê het.

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Here dankie dat U doodgewone mense gebruik tot eer en verheerliking van U Naamj

Schalk ·

Matteus was nie die skrywer van die boek Matteus nie. Tot en met vandag is daar nie n enkele bewys van wie die beok geskruif het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.