Gedagte vir die dag: Mededeelsaamheid

stiltetyd-brood-lewe.jpg

Foto: pixabay.com

Sê hulle moet hulle geld gebruik om goed te doen. Hulle moet ryk wees in goeie dade en moet ruim gee aan dié in nood; hulle moet altyd gereed wees om wat God aan hulle gegee het, met ander te deel. (1 Timoteus 6:18)

Met groot rykdom kom groot verantwoordelikheid. Ongelukkig is baie van ons onverskillige en impulsiewe bestuurders van die hulpbronne wat God aan ons toevertrou. Ons kies eerder om dit op eie gerief te spandeer as op ander. Voeg hierby trots – wat altyd voor ons deur skuil, maar nog meer as ons ryk is – en ons menslike neiging om die onbetroubare Mammon te vertrou, en ons sal beter verstaan hoekom Jesus gesê het dit is moeiliker vir ’n ryk persoon om die koninkryk van God binne te gaan.

Hier eggo Paulus Jesus se raad aan sy volgelinge aan Timoteus: om ryk te wees in die Here. Maar wat beteken dit in ons elkedagse lewens? Almal van ons wat werklik deur geloof gered is, moet vrygewig en vriendelik wees, net soos God vrygewig en goedhartig is teenoor elkeen in nood.

Om ryk te wees in goeie dade, beteken dat ons moet weggee, nie opgaar nie; uitdeel, nie bymekaarmaak nie; skenk en nie ontvang nie. Aangesien God alles besit, moet ons vrygewig wees met ons hulpbronne, of dit nou geld, goed of krag is. Kom ons onthou die ou waarheid: Wat ek gehou het, het ek verloor; wat ek weggegee het, het ek nog steeds!

Dis eintlik ’n wonderlike gedagte dat mens ryk kan wees in soveel meer dinge as net geld: ryk in ondervinding, ryk in kennis, ryk in opvoeding, ryk in familie en vriende en soveel meer. Dus het ons soveel meer wat ons met ander kan deel as net finansies. Here, vernuwe my gedagtes rondom mededeelsaamheid en maak my hart en my hand wyd oop. Amen

Bron: In vreugde en vertroue deur Suria Scholtz
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U nie meet volgens ons menslike standaarde nie….aan U my God behoort alles …Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.