Gedagte vir die dag: Meer as net nog iemand

Knysna_Berg_twee_manne_stap_see.jpg

Foto: Melanie Schlenter

Daarom, soos julle reeds doen, moet julle aanhou om mekaar moed in te praat en geestelik op te bou. (1 Tessalonisense 5:11)

Dis ’n groot seën om in ’n noue verhouding met jou gesin, familie, vriende en dalk ’n paar kollegas te leef en ware omgee vir hulle te wys. Dis iets heeltemal anders om ander mense – dié wat daagliks jou pad toevallig kruis – as ménse met ’n hart en siel te sien. En hulle so te hanteer. Kom ons dink:

  • Die vrou wat jou kruideniersakkie verpak, is nie net ’n pakker nie, maar ’n vróú. Dalk ’n ma wat die enigste broodwinner van ’n huis van vele is. Iemand wat vanaand haar mense met ’n paar snytjies brood moet voed.
  • Die man voor jou in die ry by die OTM is nie net ’n mens wat in jou pad staan nie, maar dalk ’n pa wat sy laaste sente moet trek om vir sy siek dogter medisyne te kan koop, wat met ’n klomp bekommernisse loop.
  • Die kind wat aan jou deur klop vir ou klere is nie net ’n bedelaar nie, maar ’n mens wat eintlik nie hoop het nie. Nie weet waarheen hy op pad is nie. Dalk nie eens vanaand ’n warm bed het nie.

Bid en gee vandag aan elke gewone siel wat jou pad kruis iets van jouself. Iets van jou Christus.

Maak my hart sag teenoor hulle wat so smag na liefde, Here Jesus.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.