Gedagte vir die dag: Meer as wat jy bid of dink

sonsopkoms-man-wat-bid

Foto: http://living365withjesus.wordpress.com/

Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus. (Ef 3:20-21)

Lees Efesiërs 3:20-21

God werk in en deur ons, en dié dinge wat Hy vir ons doen, is veel meer as wat ons bid of dink, getuig Paulus. Sy krag is so groot dat ons met daardie krag tot ons beskikking wonders kan verrig. Mense wat in Hom glo, hoef dus nooit weer dinge uit hul eie krag te probeer doen nie – ons weet eerstehands dat ons dit in elk geval nie sal regkry nie. Aan God kom ál die eer toe, en ons gee aan Hom daardie eer deur ons verbondenheid met Christus; deur al hoe meer soos Jesus te word en op te tree.

God wil graag sy onmeetlike krag tot jou persoonlike beskikking stel. Moenie langer op jou eie vermoëns staat maak nie – Hy kan veel meer in jou lewe doen as wat jy ooit van Hom verwag het. Eien elke dag met vrymoedigheid God se wonderwerkende krag vir jou toe vir alles wat van jou verwag word; vir al die uitdagings en probleme op jou lewenspad. Máár wanneer jy met behulp van daardie krag groot dinge vermag, mag jy nie hoogmoedig raak nie. Jy behoort altyd aan God die eer te gee wat Hom toe kom. Die doel van die kerk is juis om die Naam van die Here groot te maak sodat die wêreld God se heerlikheid kan leer ken.

Hemelse Vader, ek wil vir U die eer gee vir alle dinge wat ek kon vermag deur die krag wat U tot my beskikking gestel het. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.