Gedagte vir die dag:  Meer en meer soos Jesus

 kind_stiltetyd_gelukkig_vreugde_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. (2 Korintiërs 3:18)

Ander mense moet kan sien dat ons aan Jesus behoort. Haal af daardie sluier en leef jou lewensvreugde! Dis nie nodig om jouself aan te prys of vir almal te vertel hoe goed jy is nie. Jou stille tevredenheid, jou innerlike krag, jou menslikheid en mededeelsaamheid, jou skoon taal en positiewe uit­kyk sal jou van hulle wat Jesus nie ken nie, onderskei.

Moenie op mense afstorm en hulle met geweld probeer bekeer nie. Maak vriende en gesels rustig wanneer die geleentheid hom voordoen. Hou jouself dop sodat jy niemand veroordeel en seermaak nie. Wees nederig, eerlik en opreg. Lees die Evangelies, lees Jesus se woorde, bid tot Hom om jou hart en verstand oop te maak en wag op die Heilige Gees om jou te rig en te lei.

Paulus sê vir die Korintiërs dat hulle nie nodig het om vir mekaar aanbevelingsbriewe te skryf nie. Hulle kan mekaar in die oë kyk, want alles waar­voor hulle hul beywer, staan op hul gesig geskryf. Dis vir hom ’n riem onder die hart om te sien hoe mense aan wie hy die Evangelie by ’n vorige besoek verkondig het, Jesus uitstraal. Hy gee aan God die eer omdat hy niks uit homself vermag nie.

Net so kan ek en jy nie sonder Jesus van Hom getuig nie. Leer Hom goed ken, maak sy woorde jou woorde, sy lewensuitkyk joune. Moenie agter ’n sluier van teruggetrokkenheid, minderwaardigheid of onsekerheid skuil nie. Wys vir die wêreld wie jy is, maar doen dit soos Jesus dit sou gedoen het.

Here Jesus, dankie vir u Gees in ons, u Gees van liefde, geduld, vergifnis, mededeelsaamheid en lewensvreugde.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

En ek gaan op my knieë en sê dankie Vader, dat U ook aan my gedink het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.