Gedagte vir die dag: Mense van die lig

boer-windpomp-plaas-reint-dykema-9.jpg

Foto: Reint Dykema

Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. (Ef 5:8-9)

Lees Efesiërs 5:6-14

Jou ou lewe het deel van die sondeduisternis gevorm terwyl nuwe mense wat in Jesus glo mense van die lig is wat in die lig leef. Jy het nou van die naglewe van die sonde oorgegaan na ’n lewe in die lig van die Here. As jy aan Jesus behoort, behoort jy ook soos ’n ligmens te leef deur dié dinge te doen wat goed en reg en waar is.

Dink mooi of jou lewe al werklik ten goede verander het. Vra jouself gedurig af of die dinge wat jy doen en dink wanneer niemand jou kan sien nie vir God aanneemlik is. En wat hoor en sien ander mense as hulle na die woorde luister wat jy sê en na die dinge kyk wat jy doen? Jou maatstaf mag nou nie langer jou eie wil wees nie, maar wel God s’n. ’n Ligmens mag nie langer net vir homself leef nie, maar behoort in alles God se wil en eer te soek.

Jy het ’n verantwoordelikheid teenoor ander Christene. Help beskerm jou medegelowiges teen die praktyke van die duiwel, bid vir hulle en stel vir hulle ’n na volgenswaardige voor beeld. Mense van die lig weier om aan die sondige praktyke van die duisternis mee te doen, maar stel dit aan die kaak. Is jy al bereid om te praat as jou vriende voor jou vloek of te veel drink?

Here, dis nie aldag ewe maklik om as ’n ligmens op te tree nie. Maak my bereid om volgens u maatstaf te leef en verkeerde praktyke te veroordeel. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.