Mense wat rerig omgee

“Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: ‘Dit is ’n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe’.” (Matt. 14:15).

Dit was ʼn lang dag. Jesus se liefde en medelye met die mense is daardie dag geopenbaar deur die talle siekes wat Hy genees het. Dit het begin laat word, maar die mense het net daar gebly. Dit was ʼn afgeleë plek; daar was geen dorpe of plekke naby waar hulle kon kos koop nie. Dan kom die dissipels na Jesus toe. Hulle is besorg oor die verloop van sake. Hulle het nie die middele om die situasie te hanteer nie. Hul besorgdheid is egter nie dieselfde as Jesus se “innig jammer kry” nie. Iemand het eenmaal gesê: “They were concerned, but Jesus had compassion.” Hulle was bekommerd, maar Hy het regtig omgegee. Daar is nogal ʼn verskil.

​Die dissipels se oplossing was om die mense weg te stuur om elders kos te gaan soek. Jesus se oplossing was dat húlle vir die mense moes kos gee. Hierdie gebeure laat my dink aan die rol van die kerk in die oplossing van mense se nood en probleme. Natuurlik hoef die kerk nie ’n oplossing vir élke probleem te bied nie. Die staat het immers ook ʼn belangrike rol te speel om in die basiese behoeftes van mense te voorsien. Dan is daar ook die verskillende instansies wat in ons tyd vir vele mense op verskillende terreine hulp kan bied. Daar is egter geen instansie wat die plek en rol van die kerk kan inneem nie – nie as die kerk waarlik die kerk van Christus is en as die liggaam van Jesus funksioneer nie. Mense in nood behoort in die eerste plek – en ook as laaste toevlug – by die kerk hulp te soek. Mag ek en jy as deel van Sy kerk, ook ons deel doen om mense in nood te help.

Gebed: Dankie vir die rol wat U kerk oor die jare gespeel het om mense in nood te help. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van S.A.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.