Gedagte vir die dag: Met geloof as anker

IMG_1266.jpgLees: Hebreërs 6:13-20

Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. Hierdie hoop besit ons as ’n veilige en onbeweeglike lewensanker. (Hebreërs 6:18-19)

Die Bybelkarakters met wie ons die afgelope paar dae besig was, se geloof het elke keer die deurslag gegee en so kon hulle daarin slaag om met God se hulp al hul spanningsvolle situasies te oorleef en al hul probleme te oorwin. Hulle het dan ook mettertyd ontdek dat God se beloftes vas en seker is en dat Hy elkeen van hulle gestand doen. Dít weer, was vir hulle ’n aansporing om aan hulle hoop op God vas te hou. Hierdie hoop was vir hulle ’n lewensanker wat hulle veilig gehou het teen die lewenstorms wat hulle moes trotseer. God vrywaar ons nou wel nie van storms nie, maar geloof in Hom anker ons lewensboot veilig by Hom.

Jou geloof kan ook vir jou ’n lewensanker wees wat jou lewensbootjie in stormtye stewig geanker hou. As jy aan God behoort, is jy nooit aan jou lewensomstandighede uitgelewer nie: Jy weet immers dat die God in wie jy glo by jou is. Hy doen altyd wat Hy beloof het; Hy kan ook die storm wat jy op die oomblik moet trotseer, weer stilmaak. Daarom mag jy met groot sekerheid aan die hoop op die heerlikheid vashou wat Hy sy kinders beloof het.

Here God, ek loof U vir die stewige, onbeweeglike anker van my geloof en die wete dat U my sal vashou wanneer daar storms in my lewe opduik. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Erika ·

Hoe maak mens as dieselfde storm keer op keer terugkeer. Ek is moedeloos, elke keer hoop en glo ek die keer gaan dinge anders wees. Beter wees. Ek is dankbaar vir die woord vir vandag. Al leer dit my net, dat my omstandighede dalk nooit sal verander nie. Maar dat God deur dit alles by my is.

Gigi ·

Erika, dit is asof jy my eie gedagtes en emosies hier neergepen het. Die krag wat ek vandag uit hier gedagte vir die dag put, is dat ” Hy die storm wat jy op die oomblik moet trotseer, weer kan stilmaak”.

Helien ·

God het hom al so baie keer self bewys. Daar is nog steets wonderwerke. Ons moet net glo en vertrou en God vra om saam met ons in die boodtjie te klim. Hy kan en sal ons uit die storm neem en na n veilige plek neem. Loof Hom my Jesus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.