Gedagte vir die dag: Met God as jou Herder

Here-is-my-Herder

Foto: Refiningtruth.com

Lees: Jesaja 40:1-2, 10-11

Soos ’n herder versorg God sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie. (Jesaja 40:11)

In die Ou Testament ervaar God se volk dikwels dat Hy vir hulle soos ’n herder is wat keer op keer in elkeen van hulle behoeftes voorsien het. Dit is immers Hy wat hulle uit die slawerny van Egipte verlos het, hulle vir 40 jaar lank deur die woestyn gelei het, aan hulle kant geveg het, en hulle uiteindelik veilig by die Beloofde Land laat aankom het. Dit is juis omdat God vir hulle gesorg het dat dit so goed met hulle gegaan het.

Ongelukkig was Israel baie ontrou aan hierdie Herder. Hulle het Hom keer op keer vir heidense afgode verruil en net opgesoek as hulle in die moeilikheid was. Hulle het geweier om sy verbondsliefde te beantwoord, en nie na sy herhaalde waarskuwings geluister nie. Uiteindelik het God se geduld met hulle opgeraak, en het Hy toegelaat dat hulle land verwoes word en hulle in ballingskap na Babel weggevoer is. Selfs daar het God hulle nie verlaat nie, maar hulle uiteindelik weer na hulle eie land teruggebring.

God beloof om jou te versorg soos ’n herder sy skape versorg. Hy verseker jou dat Hy jou in sy arms sal dra – en in daardie arms is jy veilig vir tyd en ewigheid. Maar dan moet jy onderneem om aan Hom getrou te bly. Sien jy kans om jou hele lewe aan hierdie Herder toe te vertrou?

Here, dankie vir die belofte dat U vir my ’n Herder is wat vir my sal sorg en my veilig sal hou. Ek wil nou my hele lewe aan U toevertrou. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.