Toe staan Hy op en bestraf die wind en die golwe. Hulle het bedaar en daar het stilte gekom. Toe sê Jesus vir hulle: “Waar is julle geloof dan?” (Luk 8:24-25)
Lees Lukas 8:22-25
In Mei 2005 het ek ’n aangrypende ervaring gehad toe die Bizweni-gemeente my genooi het om ’n oggend saam met ’n gestremde klassie deur te bring. Daar was vyf onderwysers wat na sowat sestien kinders moes omsien. Elke onderwyser het kans gekry om dieselfde Bybelstorie – dié een van Jesus wat in die boot aan die slaap geraak het toe daar ’n storm opgekom het – in sy eie woorde te vertel en die prentjies in die Kinderbybel vir sy groepie kinders te wys.
Ek het verwonderd na die vyf onderwysers geluister wat dieselfde storie vyf keer herhaal het, en gewonder hoeveel die kinders, wie se ouderdomme van vier jaar tot twaalf jaar gewissel het, nou eintlik daarvan verstaan het. Nie een van hulle was hoegenaamd in staat om verbaal te kommunikeer nie.
Toe dit die beurt van ’n jong swart onderwyser was om vir sy groepie die verhaal te vertel, het hy sy storie afgesluit met woorde wat ek nooit sal vergeet nie: “As ’n mens vir Jesus in jou bootjie het, jy kan lag in die storm.” Sorg dat Jesus vanjaar in jou lewensbootjie teenwoordig is. Dan kan die lewenstorms maar kom sonder dat jy bang hoef te wees. Hy kan nie net enige storm laat bedaar nie, maar Hy hou jou veilig, selfs ná jou dood.
Here Jesus, dankie vir die voorreg om te kan lag in die storm omdat U in my lewensbootjie teenwoordig is en ek seker weet dat met U by my, ek te alle tye volkome veilig is. Amen